Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Democratic Union-party wil hê die OVK moet ingryp by die ANC se versoek aan die diplomatieke korps
# Suid-Afrikaanse landdroste oorweeg versetoptrede oor salarisverskille
# en Krieket: Die Proteas-groep aangekondig vir die T20 Wêreldbeker
# Die Democratic Union-party sê die ANC se versoek dat die diplomatieke korps moet help met die party se veldtog in die buiteland, is ‘n blatante misbruik van mag. ‘n Brief deur die kantoor van die sekretaris-generaal van die ANC is in omloop waarin hy diplomatieke personeel vra om vandag aan ‘n aanlyn-vergadering deel te neem om die ANC se mobiliseringstrategie vir 2024 te bespreek. Die sekretaris-generaal van die DUP, Thapelo Makgale, sê die Verkiesingskommissie noet dringend ingryp:
# Suid-Afrikaanse landdroste, verteenwoordig deur die Vereniging van Regterlike Beamptes, oorweeg ‘n staking oor salarisverskille. Die vereniging, wat meer as 800 landdroste verteenwoordig, wil hê die staat moet wegdoen met die salarisgaping tussen landdroste en regters. Landdroste eis regverdige vergoeding en voer aan hulle hanteer 95-persent van die regswerk. Neelen Karikan van die vereniging voer aan die rolle en pligte van landdroste het progressief ontwikkel, maar die salarisstruktuur van landdroste is nie korrek aangepas nie. Hy sê landdroste het sedert April 2023 geen lewenskoste-aanpassings ontvang nie.
# Die Oos-Kaap staan reg om ‘n sleutelspeler in die daggabedryf te word met ‘n belegging van 100-miljoen-rand in die spesiale ekonomiese sone by Coega. Die belegging word gelei deur Medigrow ZA en sal met binnenshuise verbouing, verpakking, CBD-ontginning en sigaretvervaardiging begin. Premier Oscar Mabuyane beskou die belegging as ‘n belangrike katalisator vir plaaslike en internasionale beleggers wat die provinsie se strategiese potensiaal in die dagga-sektor dophou:
# Krieket: Hoofafrigter, Rob Walter, het 15 spelers in die Proteas-groep ingesluit vir die Wêreldbeker wat in Junie in die Wes-Indiese Eilande en Amerika plaasvind. Aiden Markram sal die groep aanvoer wat twee nuwelinge in die T20-formaat insluit – kolwer Ryan Rickelton en snelbouler, Ottniel Baartman. Die Proteas sal die voordeel hê van ervare kolwers soos Quinton de Kock, Reeza Hendricks, Heinrich Klaasen en David Miller. Kagiso Rabada en Anrich Nortjé sal die snelaanval lei en daar is ook drie voorslag draaiers in die span − Bjorn Fortuin, Keshav Maharaj en Tabraiz Shamsi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-3-sent teen die euro en 23-rand-44-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-118-dollar-2-sent. Die prys van goud is twee-duisend-314-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-34-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Rodeo-werkers in die Amerikaanse staat Washington het gehelp om sebras, wat uit hul sleepwa ontsnap en by ‘n restaurant se verbaasde klante verbygedraf het, weer aan te keer. Vier sebras wat van Montana vervoer is, het sowat 40 kilometer van Seattle ontsnap en deur ʼn woonbuurt galop. ʼn Polisielid van Washington-staat, Rick Johnson, sê drie van die diere is vinnig aangekeer, maar hulle het gister nog na die ander een gesoek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….