Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Springbok-stut Ox Nché glo Frankryk sal die ontwrigting oorkom van vier van sy losskakels wat beseer is. Kaptein Antoine Dupoint verruil die nommer nege-trui vir die tien in môreaand se Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Suid-Afrika in Parys. Maxime Lucu is sy skakelmaat. Nché sê Frankryk het talle gehalte jong spelers wat die afgelope paar jaar deur die range gevorder het:
# Swem: Die voormalige kortbad-wêreldkampioen Matthew Sates van Suid-Afrika is volgens berigte op die punt om Australië te verteenwoordig nadat hy verblyfreg in die land bekom het. Die 23-jarige, wat Suid-Afrika verteenwoordig het in die Olimpiese Spele in Tokio in 2021 en drie jaar later in Parys, wil beter finansiële geleenthede hê. Dit volg nadat die viermalige Olimpiese medaljewenner Tatjana Smith aangekondig het sy gaan voortaan vir Nederland deelneem. Sates, wat verskeie kortbad-rekords hou, insluitend in die 200-meter vryslag, het reeds saam met die Australiese span geoefen.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se vrouespan het deurgedring na die eindstryd van die CAF-kampioeneliga toe hulle Kawempe van Oeganda 4-1 verslaan het op die Suezkanaal-stadion in Ismailia, Egipte. Sundowns se voorspeler, Ronnel Donnelly, het in die eerste helfte ‘n driekuns behaal terwyl die middeveldspeler Noxolo die vierde bygevoeg het om Sundowns rustyd gemaklik te laat voorloop. Oeganda het laat in die tweede helfte ‘n troos-doel aangeteken en met tien spelers geëindig na ‘n rooikaart. Sundowns pak AS FAR Rabat van Marokko in Sondag se eindstryd.
Nog sokkernuus, die Suid-Afrikaanse joernalis en dosent Peter Auf de Heyde gaan Gianni Infantino ook uitdaag om FIFA se presidentskap. Die 65-jarige was president van Grahamstad se Sokkervereniging en het UDW FC in die vroeë 1990’s besit en bestuur. Die erepresident van Japan se sokkervereniging, Kozo Tashima, en Tottenham Hotspur en Switserland se gewese verdediger, Ramon Vega, staan ook in Maart se verkiesing. Auf de Heyde het aan BBC gesê hy het drie fokusgebiede:
# En laastens krieket: Australië se kaptein, Pat Cummins, het toegegee aan druk en gaan antwoord op sy gewese spanmaat Usman Khawaja se onthullings oor die berugte skuurpapier-skandaal in Suid-Afrika in 2018. Khawaja beweer die hele span het geweet van die plan om die bal met skuurpapier grof te maak tydens die toetsreeks, hoewel slegs kaptein Steve Smith, onderkaptein David Warner en die bouler Cameron Bancroft gestraf is. Cummins was ook deel van die span. Hy sê hy het tyd geneem om die bewerings behoorlik te bestudeer en sal môre daarop reageer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….