Nuus 13:00
BULLETIN 26 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA stel oplossings bekend vir ekonomiese hervorming
# UNICEF wil hê Suid-Afrikaanse kinders moet voorop gestel word in die ontwikkelingsagenda
# En, Sokker, ‘n slegs-vroue-skeidsregterspan gaan vir die eerste keer ‘n Serie A-wedstryd behartig
# Die DA het ‘n nuwe ekonomiese beleid bekendgestel om Suid-Afrika se ernstige werkloosheidskrisis aan te pak. Die beleid, wat daarop gemik is om tussen twee-miljoen en drie-miljoen nuwe werksgeleenthede te skep, fokus op die verbetering in die gemak om sake te doen, om beter fiskale keuses te maak en die hervorming van arbeidsbeleide. DA-leier John Steenhuisen het op ‘n nuuskonferensie die hoë vlakke van werkloosheid beskryf as ‘n mensgemaakte ramp wat die ANC veroorsaak het. Steenhuisen het kiesers aangemoedig om die DA se plan te ondersteun:
UNICEF Suid-Afrika het intussen in ‘n manifesvrystelling wat 30-jaar van demokrasie herdenk, versoek dat kinders in die ontwikkelingsagenda voorop gestel word. Die manifes versoek verbeterde pogings om die welstand van alle kinders, insluitend diegene met gestremdhede en migrante, te verseker. UNICEF se lands-verteenwoordiger, Christine Muhigana, het die behoefte beklemtoon dat leiers voorkeur gee aan kinders se beskerming en toekoms in aanloop tot die verkiesing:
# Die Golden Arrow-busdiens beoordeel of hulle Lion’s Explorer E elektriese busse van MAN Truck and Bus South Africa gaan aanskaf. Die Kaapstadse busdiens het in September sy eerste Lion’s Explorer E vir toetse ontvang. ‘n Ingenieur by die onderneming, Gideon Neethling, het in Februarie positiewe terugvoer van bestuurders en passasiers tydens toetse aangeteken. Die evaluasie het ten doel om energiedoeltreffendheid en bedryfsgeskiktheid te bepaal, met die busdiens wat jaarliks meer as 60 elektriese busse oorweeg.
# Sokker: ‘n Volledig vroulike skeidsregterspan sal hierdie naweek vir die eerste keer ‘n Serie A-wedstryd behartig. Maria Sole Ferrieri Caputi sal Sondag in beheer wees van die wedstryd tussen die ligakampioene Inter Milaan en Torino. Sy sal vergesel word deur die assistent-skeidsregters Francesca Di Monte en Tiziana Trasciatti. Die drie-en-dertigjarige Caputi het in 2022 die eerste vroulike skeidsregter in Serie A geword en het hierdie seisoen beheer geneem van ses wedstryde in die Italiaanse topliga.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-500-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-348-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-1-sent per vat.
# En, laastens: Graham Forbes van Greenpeace is van mening die toenemende teenwoordigheid van fossielbrandstof en petrochemiese nywerhede en die uitwerking daarvan, is nie wat mense wil hê of die klimaat nodig het nie. Tydens besprekings by die Verenigde Nasies se verdragonderhandelings in Kanada is gepoog om ‘n dooiepunt op te los tussen fossielbrandstof-nasies en ander wat die lewensiklus van plastiek wil aanspreek. Forbes sê VN-lidlande moet ‘n globale verdrag aanvaar wat plastiekvervaardiging beperk en die eenmalige gebruik daarvan verbied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….