Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 10 November 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die meeste van die spelers in Vrydag se Nasieskampioenskaps-kragmeting met Frankryk in Parys het reeds tuis teen hulle gespeel en weet wat om te verwag. Sestien spelers was deel van die span in verlede jaar se oorwinning van 32-17 en tien het Suid-Afrika in 2023 gehelp om hulle te verslaan in die Wêreldbeker-kwarteindstryd. Erasmus sê die spelers het vooraf geweet hy gaan nie te veel aan die groep torring nie:
Intussen erken Erasmus die onvoorspelbaarheid van Frankryk se kaptein, Antoine Dupont, hou ‘n moeilike uitdaging in in hierdie wedstryd. Hy glo die skrumskakel se instink maak hom besonder moeilik om in toom te hou, en dat selfs sy eie spanmaats nie altyd weet wat hy gaan doen nie. Frankryk het sy aanvals-potensiaal getoon toe hy Fidji verlede naweek in Lyon 54-17 oorrompel en agt drieë gedruk het.
# Sokker: Bafana Bafana het begin oefen vir dié maand se twee Afrikabeker-kwalifiseerders teen Kenia. Afrigter Pitso Mosimane het gisteraand sy eerste oefening aangebied sonder Mbekezeli Mbokazi, Lyle Foster en Puso Dithejane, wat in Amerika speel, en Relebohile Mofokeng en Sphephelo Sithole, wat vir Europese klubs speel. Hulle sluit vandag by die groep aan. Suid-Afrika sal die Harambee Stars Vrydag in Johannesburg verwelkom. Mosimane waarsku sy spelers om Kenia onder afrigter Benni McCarthy nie te onderskat nie:
# Krieket: Australië gaan nie die ondersoek na die berugte skuurpapier-skandaal in Suid-Afrika in 2018 heropen nie, ondanks die gewese kolwer Usman Khawaja se onthullings in sy memoir. Hy beweer die hele toergroep het geweet van die plan om die bal met skuurpapier grof te maak, hoewel slegs kaptein Steve Smith, onderkaptein David Warner en die bouler Cameron Bancroft gestraf is. Krieket Australië se uitvoerende hoof, Todd Greenberg, sien nie enige dwingende rede vir ‘n nuwe ondersoek nie. Warner bevestig Khawaja se bewerings as 100-persent akkuraat.
En in nog krieketnuus, Skotland se kommer oor die wyse waarop die Taliban-bewind vroue en meisies in Afganistan behandel, is die rede vir sy besluit om nie teen die land te speel nie behalwe in toernooie van die Internasionale Krieketraad. Vrouesport het feitlik heeltemal verdwyn sedert die organisasie drie jaar gelede weer aan bewind gekom het en vroue het baie beperkte toegang tot onderwys en werksgeleenthede. Volgens Reuters sluit Skotland se standpunt aan by dié van Krieket Australië en die Engelse en Walliese Krieketraad om bilaterale bande met Afganistan op te skort.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….