Nuus 13:00
Bulletin Inhoud
BULLETIN 21 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die PAC-leier loof die ontslape voormalige president Motsoko Pheko as ‘n lojalis van die party
# Johannesburg se Krisis-alliansie bied ‘n spitsberaad aan oor waterkwessies
# En, motorsport: Verstappen wen die Chinese Grand Prix
# Die leier van die PAC, Mzwanele Nyhontso, beskryf die voormalige wyle president Motsoko Pheko as ‘n lojalis van die party. Die 93-jarige het tien jaar lank as lid van die Parlement gedien en het in verskeie portefeuljekomitees gedien, waaronder Buitelandse Sake en Veiligheid en Sekerheid. Nyhontso loof Pheko se anti-apartheids-aktivisme en voorspraak vir grondregte, en ibetreur dit dat hy dood is sonder om getuie te wees van grondrestitusie vir inheemse mense:
# Die vierde spitsberaad van die Johannesbugse Krisis-alliansie by die Brixton-ontspanningsentrum het die uitdagings vir inwoners en die land bespreek. Dit is aangebied deur die Ahmed Kathrada-stigting, die Organisasie teen Belastingmisbruik en ander organisasies. Inwoners het politieke partye konfronteer oor die agteruitgang van die stad. Kommer is uitgespreek oor die water- en sanitasie-netwerk wat ineenstort weens onvoldoende fondse vir onderhoud en infrastruktuur-vervanging. Hulle vra deursigtigheid en aanspreeklikheid met water-infrastruktuurplanne.
# Die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, is volgende week die hoofspreker op die 2024 Vaardigheids-ontwikkelingfasiliteerders-konferensie in Kaapstad. Sy woordvoerder Veli Mbele sê die twee-daagse geleentheid wil die professionele vaardighede verbeter van fasiliteerders en opleidings-amptenare. Die konferensie dek organisatoriese ontwikkelingsplanne, vaardigheidsadministraste, die bevordering van ‘n leerkultuur, en begrip van die SETA-sektorale vaardigheidsplanne:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers het gister ‘n wetsontwerp aanvaar wat die gewilde sosiale media-toepassing TikTok sal dwing om sy bande te verbreek met sy Chinese moedermaatskappy ByteDance, of uitgesluit word uit die Amerikaanse mark. AFP berig ByteDance sal die toepassing binne ‘n jaar moet verkoop of uitgesluit word uit Apple en Google se winkels in die VSA. Die ultimatum is ingesluit in ‘n breër teks oor hulp aan Oekraïne, Israel en Taiwan. TikTok het vinnig gekla ná die stemming en noem dit ‘n ongelukkige toedrag van sake.
# En, motorsport: Max Verstappen het sy eerste Grand Prix in China gewen. Sy triomf in Shanghai is begroet deur ‘n bulderende skare en Red Bull-werktuigkundiges. Hy was 13.9-sekondes voor, met Lando Norris tweede en Sergio Perez, derde. Verstappen het vroeër ook die snelren gewen. News24 berig die enigste klad op sy naweek is dat Fernando Alonso dalk die bonuspunt vir die vinnigste ronde kon wegraap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….