Nuus 11:00
BULLETIN 7 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering waarsku teen die verspreiding van verkiesingsverwante waninligting
# Die MK-party maak formeel beswaar oor beweerde verkiesingsonreëlmatighede in eThekwini
# En, Korrektiewe Dienste konfiskeer selfone en ander ongemagtigde items by Kgosi Mampuru
# Die regering het sy beroep op Suid-Afrikaners en politieke partye herhaal om nie misleidende inligting of doelbewuste onwaarhede oor die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing te versprei nie. Dit volg na berigte oor misleidende inligting wat landwyd die rondte doen, terwyl die Verkiesingskommissie die stemtelproses finaliseer. Die regering se adjunkwoordvoerder, William Baloyi, vra politieke partye, openbare verteenwoordigers en lede van die publiek om inligting na te gaan voor hulle dit deel, en eerder op amptelike kommunikasie deur die Verkiesingskommissie staat te maak:
# Die MK-party het gisteraand formeel ’n beswaar by die Verkiesingskommissie ingedien oor beweerde verkiesingsonreëlmatighede. Die party is bekommerd oor beweerde onreëlmatighede tydens die tel-, verifiëring- en rekonsiliëringsprosesse, veral in die eThekwini Metro. MK dring aan op ’n onmiddellike oudit van betwiste uitslae, die opskorting van verdere verwerking van die betrokke uitslae in afwagting op verifiëring, en toegang tot onafhanklike forensiese ontleding. Die party eis ook dat alle uitstaande teenstrydighede opgelos word voordat die verkiesingsuitslae finaal verklaar word.
# Die Departement van Korrektiewe Dienste het gister ’n dringende deursoekingsoperasie by die Kgosi Mampuru Twee Korrektiewe Sentrum in Pretoria uitgevoer. Dit volg na die verspreiding van ’n video op sosiale media wat wys hoe oortreders, onder andere die geskorste advokaat Malesela Teffo, in die korrektiewe sentrum dans en musiek speel. Die nasionale kommissaris van Korrektiewe Dienste, Samuel Thobakgale, het die bestuur onmiddellik opdrag gegee om die sentrum te deursoek:
# Russiese magte het vroeg vanoggend ‘n missielaanval op die Oekraïnse hoofstad Kiëf uitgevoer, en residensiële geboue en ‘n kleuterskool beskadig. Burgemeester Vitali Klitschko sê ‘n vyfverdiepingwoonstelblok is getref, terwyl die voorkant van ‘n ander gebou ook beskadig is. Die stad se militêre administrasie sê twee mense is beseer. Ontploffings is in die voorstede aangemeld waar missiele infrastruktuur geteiken het. Lugverdedigingstelsels regoor die hoofstad is geaktiveer, en inwoners is versoek om tot verdere kennisgewing in skuilings te bly. Noodspanne is gestuur om die skade te bepaal en inwoners by te staan.
# Tennis: Carlos Alcaraz is vir die eerste keer deur na die halfeindronde van die Parys-Meesters. Die Spanjaard, wat tweede op die wêreldranglys is, het gister in ‘n opwindende kwarteindstryd twee wedstrydpunte teen die Amerikaner Taylor Fritz afgeweer, en uiteindelik met 6-7, 7-5, 6-3 geseëvier. Fritz was in die tweede stel twee keer net een punt van ‘n oorwinning af, maar Alcaraz het herstel om ‘n beslissende stel af te dwing. Die nederlaag beëindig Fritz se hoop om te kwalifiseer vir die ATP-jaareindtoernooi in Turyn, wat die seisoen sal afsluit.
# En ten slotte, ’n nuwe soort roos is by Vergelegen-wynlandgoed in Somerset-Wes ontdek nadat ’n bestaande roosplant natuurlik van kleur verander het. Die nuwe roos, genaamd Vergelegen, het groot bottergeel blomme met ‘n ligte geur. Dit het uit ‘n McHardy-roosbos in die landgoed se tuin gegroei. Die nuwe roos gaan intussen by Ludwig’s Roses-kwekery in Pretoria gekweek word. Vergelegen sê die nuwe plante sal een tot twee seisoene neem om volwasse te word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….