Nuus 13:00
BULLETIN 12 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF se sekretaris-generaal word skuldig bevind aan die aanval op ‘n polisieman by die Parlement
# Tieners word in Duitsland aangehou vir die vermeende beplanning van ‘n Islamitiese aanval
# En, rugby: Engelse en Franse spanne oorheers die Kampioene-beker-kwarteindronde
# Die EFF se sekretaris-generaal, Marshall Dlamini, is skuldig bevind aan aanranding en opsetlike saakbeskadiging vir sy betrokkenheid by ‘n onderonsie met ‘n polisieman by die Parlement. News24 berig die Kaapstadse Streekhof het hom daaraan skuldig bevind dat hy Johan Carstens in Februarie 2019 aangerand het tydens ‘n voorval ná die staatsrede. Hy het Carstens in die gesig geslaan en sy bril gebreek. Landdros Nasha Banwari het Dlamini se bewering verwerp dat hy die partyleier, Julius Malema, teen ‘n beweerde sluipmoorddreigement beskerm het. Vonnisoplegging is geskeduleer vir 31 Mei.
# Die studentevereniging SASCO sê die ontbinding van die raad van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente en die bedanking van die voorsitter, Ernest Khoza, is ‘n aansienlike oorwinning vir die algemene studentebevolking wat staatmaak op die befondsing om hulle onderwysdrome te verwesentlik. SASCO sê strukturele hervorming van die skema se administrasie is dringend noodsaaklik. Die woordvoerder, Mangaliso Nompula, sê ondoeltreffendheid en burokratiese struikelblokke kniehalter studente se toegang tot finansiële bystand:
# Die polisie in die weste van Duitsland hou twee tienermeisies en ‘n seun van die Düsseldorf-streek aan wat verdink word van die beplanning van ‘n Islamitiese aanval. Aanklaers sê die drietal, tussen 15 en 16 jaar oud, het dalk ‘n terreuraanval beplan wat moord sou insluit. Ondersoekers het nie meer besonderhede gegee oor die beweerde sameswering nie, en sê die ondersoek is nog aan die gang.
# Rugby: Daar is die naweek vier Engelse spanne in die kwarteindronde van die Kampioenebeker, asook drie Franse spanne en een elk van Ierland en Suid-Afrika. Bordeaux ontvang Harlequins, Leinster verwelkom La Rochelle, Exeter Chiefs kom in Frankryk te staan teen Toulouse en die Bulle pak Northampton Saints in Engeland. Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, sê daar wag ‘n moeilike taak op sy span:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-2-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-633-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-394-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 90-dollar-59-sent per vat.
# En, laastens: Die Britse Koninklike Vloot se besluit om die vereiste te laat vaar dat rekrute moet kan swem, word beskryf as ‘n teken van ware desperaatheid. Hulle moes in die verlede ‘n swemtoets van ‘n halfuur slaag. Die Vloot ontken hy verlaag sy standaarde en sê dit beteken net mense wat swak of glad nie kan swem nie, sal nie meer swemlesse hoef te neem voor hulle aanmeld nie. Vlootbevelvoerders is volgens berigte onder druk om meer lede te werf na ‘n ernstige afname in aansoeke verlede jaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….