Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mapisa-Nqakula se poging om haar inhegtenisneming te verhoed word van die hand gewys
# ‘n Waarskuwing dat die elektrisiteitsverhoging van 12,74-persent ‘n verwoestende uitwerking op die ekonomie gaan hê
# En, tennis: Jannik Sinner het sy oog op Djokovic se nommer een-posisie
# Die Hooggereghof in Pretoria het die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, se poging van die hand gewys om haar inhegtenisneming te keer. Die hof het die dringende aansoek met koste van die rol geskrap en daarop gewys dat die toestaan van so ‘n bevel die sluise kan oopmaak. Mapisa-Nqakula word ondersoek vir beweerde korrupsie en geldwassery tydens haar termyn as minister van Verdediging en Militêre Veterane. Regter Sulet Potterill het beslis die hof kan nie ‘n inhegtenisneming onregmatig verklaar voordat dit gebeur het nie:
# Die Activists and Citizens Forum sê die elektrisiteitsverhoging van 12,74-persent, tesame met die styging in brandstofpryse, sal ‘n verwoestende uitwerking op die reeds sukkelende ekonomie hê. Die forum voorspel meer ondernemings gaan hul deure sluit, met die lewenskoste en onbekostigbare kos wat die armes die ergste sal raak. Die woordvoerder, Dennis Bloem, sê die ANC-regering het heeltemal misluk in sy belofte van 1994 van ‘n beter lewe vir almal. Hy sê in werklikheid raak die lewe net moeiliker onder die huidige regering.
# SANParke in die Wes-Kaap moedig inwoners aan om enige verdagte bedrywighede aan te meld wat die natuurlewe en beskermde gebiede in die provinsie kan bedreig. ’n Vier-en-veertigjarige man is in verband met beweerde stropery in hegtenis geneem nadat hy by Grootbank wes van Nature’s Valley met 34 kilogram perlemoen betrap is. SANParke se woordvoerder, JP Louw, sê nadat hulle die patrollie bemerk het, het vier duikers uit die see gekom en weggehardloop:
# Tennis: Jannik Sinner kan Novak Djokovic van Serwië onttroon as wêreld nommer een indien hy sy goeie spelpeil in die kleibaanseisoen volhou. Die Italianer het die Spanjaard Carlos Alcaraz in die tweede plek vervang nadat hy die Miami Ope gewen het. Grigor Dimitrov van Bulgarye, wat in die eindstryd teen Sinner verloor het, het drie plekke opgeskuif tot negende. Daniil Medvedev van Rusland is steeds vierde, gevolg deur die Duitser Alexander Zverev, die Rus Andrey Rublev, Holger Rune van Denemarke en Casper Ruud van Noorweë. Hubert Hurkacz van Pole is tiende.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 20-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-65-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-417-dollar-97-sent. Die prys van goud is twee-duisend-261-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 88-dollar-81-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die fliek, Godzilla x Kong: The New Empire, is tans die derde-grootste geldmaker van die jaar. Die fliek van Warner Brothers en Legendary Entertainment het drie dae ná sy vrystelling wêreldwyd sowat 3,7-miljard-rand ingeoes. Die regisseur is Adam Wingard, en Rebecca Hall, Brian Tyree Henry en Dan Stevens is in die hoofrolle. Dune: Part Two is steeds die grootste geldmaker van die jaar, gevolg deur Kung Fu Panda 4. Godzilla x Kong se vervaardiger, Mary Parent, sê hulle wou iets hoogs-vermaaklik aan gehore bied.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….