Nuus 13:00
BULLETIN 1 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula sê die waarheid oor die ANC se goeie werk vir Suid-Afrikaners is alombekend
# Die agtjarige oorlewende van die busongeluk in Limpopo herstel goed in die Mokopane-hospitaal
# En, krieket, oorwinnings vir die Gujarat Titans en die Delhi Capitals in die Indiese Premierliga
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die goeie werk wat die ANC die afgelope 30 jaar vir Suid-Afrikaners gedoen het, is alombekend in die gemeenskap. Mbalula het ‘n diens van die Covenant Fellowship Church International in eSikhawini, KwaZulu-Natal, bygewoon. Volgens hom speel die kerk ‘n belangrike rol in die heropbou en ontwikkeling van die siele van mense terwyl probleme soos gebroke gesinne die gemeenskap teister:
# Die agtjarige meisie van Botswana, Lorraine Atlang Siako, die enigste oorlewende van die noodlottige busongeluk op die R518 in Limpopo, herstel goed in die Mokopane-hospitaal. Sy is na die ongeluk Donderdag, waarin 45 mense dood is, per helikopter na die hospitaal geneem. Die bus was op pad van Gaborone na Moria vir die jaarlikse pelgrimstog oor die Paasnaweek, toe dit deur die reling van ‘n brug gestort en 50 meter onder die brug in vlamme uitgebars het. Volgens die woordvoerder van die provinsiale LUR vir Gesondheid, Thilivhali Muavha, begin die departement môre met lykskouings om die slagoffers te identifiseer.
Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Mike Masiapato, sê intussen die instansie verleen steeds bystand deur saam te werk met alle organisasies wat betrokke is by die Botswana-busongeluk. Die owerheid onderneem deurlopend wetstoepassingsoperasies en is vandag in Lephalale, Limpopo, betrokke by die wettige vervoer van goedere en mense by die grensposte Stockpoort en Groblersbrug. Die woordvoerder van die owerheid, Mmemme Mogotsi, sê Masiapato is eerste by die Stockpoort-grenspos, waar die gedoemde Botswana-bus Suid-Afrika binnegekom het:
# Benjamin Netanyahu onderneem om Hamas te vernietig en om voort te gaan met sy grondoffensief in Rafah terwyl duisende betogers eis hy word verwyder. Die eerste minister het inwoners van Israel Sondag in ʼn toespraak op televisie verseker hy sal alles moontlik doen om te verseker gyselaars wat deur Hamas ontvoer is, word vrygelaat. Netanyahu sê sy weermag sal burgerlikes uit Rafah verwyder voor die offensief teen die suidelike stad. Verskeie van Israel se bondgenote en humanitêre groepe waarsku ‘n grondoffensief in Rafah sal tot ‘n menslike katastrofe lei.
En ten slotte, krieket, die Gujarat Titans het Sondagmiddag hul Indiese Premierliga-wedstryd teen die Sunrisers Hyderabad in Ahmedabad met sewe paaltjies gewen. Die Titans het net 19 boulbeurte en een bal nodig gehad om 168 vir drie te behaal, in antwoord op die Sunrisers se 162 vir agt in hul 20 boulbeurte. In gister se ander wedstryd in Visakhapatnam het die Delhi Capitals met 191 vir vyf hulle eerste oorwinning van die toernooi behaal toe hulle die Chennai Super Kings met 20 lopies verslaan het. Dit was die Super Kings se eerste nederlaag in vanjaar se toernooi.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….