Nuus 11:00
BULLETIN 18 Oktober 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC-president Cyril Ramaphosa vra ANC-ondersteuners om in groot getalle te stem
# Ian Cameron sê Fannie Masemola moet mislukkings in die polisiediens aanspreek
# En: Massabetogings in Frankryk ontaard in gewelddadige onluste
# Die ANC-president, Cyril Ramaphosa, het ondersteuners in Emfuleni aangemoedig om in groot getalle deel te neem aan volgende maand se plaaslikeregeringsverkiesing. Ramaphosa het sowat 300 vrywilligers toegespreek en kiesers gevra om die party te help om beheer van Kaapstad terug te wen en die DA-oorheersing in die Wes-Kaap te beëindig. Hy sê Kaapstad is ‘n verdeelde stad, met sekere gebiede wat goed onderhou word terwyl ander verwaarloos word. Ramaphosa sit sy verkiesingsveldtog vandag voort met die bywoning van ‘n kerkdiens in Khayelitsha:
Intussen kritiseer die leier van die Inkatha Vryheidsparty, Velenkosini Hlabisa, munisipaliteite omdat waterinfrastruktuur verwaarloos word en sê tekorte raak huishoudings sowel as boere. Hlabisa het tydens die party se verkiesingsveldtog in Tzaneen, Limpopo, gesê die instandhouding van infrastruktuur is ‘n kernprioriteit en beklemtoon dat munisipaliteite verouderde en gebrekkige stelsels moet herstel voor dit in groter krisisse ontaard. Hlabisa sê voorkomende instandhouding is noodsaaklik om betroubare watervoorsiening te verseker, boere se lewensbestaan te beskerm en dienslewering te verbeter:
# Die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor Polisie, Ian Cameron, sê die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, moet dringend die polisie se verslegtende dienste, vakante leiersposisies en dalende openbare vertroue aanspreek. Masemola keer Maandag terug werk toe nadat president Cyril Ramaphosa sy skorsing opgehef het toe aanklagte teen hom teruggetrek is. Cameron sê die polisiediens moet sy prestasie verbeter, skelm beamptes verwyder en openbare vertroue herbou. Hy waarsku ook dat die strafregstelsel nie as wapen gebruik moet word teen diegene wat die wet moet handhaaf nie.
# Frankryk is geskud deur die ergste onluste in dekades nadat betogings oor stygende lewenskoste en die agteruitgang van openbare dienste in geweld ontaard het. Meer as 500-duisend mense het Saterdag aan die betogings deelgeneem, wat meestal vreedsaam was. Gewelddadige groepe het egter openbare geboue aan die brand gesteek, winkels geplunder en met die polisie slaags geraak. Die eerste minister Sébastien Lecornu sê sowat een-duisend-200 mense is in hegtenis geneem en meer as 150 polisielede is beseer. Die betogings het begin weens swak toestande in skole, maar het later uitgebrei tot ontevredenheid oor ongelykheid en staatsbesteding.
# Tennis: Die Spanjaarde Alejandro Davidovich Fokina en Rafael Jodar gaan sake uitwoed in die eindstryd van die Shanghai Meesters, nadat hulle onderskeidelik die topgekeurde Alexander Zverev en die voormalige wêreldnommer een, Daniil Medvedev, uitgeskakel het. Davidovich Fokina het die Duitser Zverev met 5-7, 6-4, 6-3 verslaan, terwyl die 20-jarige Jodar die Rus Medvedev met 6-3, 6-4 geklop het. Jodar is nou in sy eerste Meesters Een-duised-eindstryd na merkwaardige vordering hierdie seisoen. Davidovich Fokina soek ook sy eerste titel op hierdie vlak, nadat hy in 2022 naaswenner in Monte Carlo was.
En in nog tennisnuus: Maja Chwalinska van Pole het haar landgenoot Iga Swiatek met 7-5, 6-1 geklop en is deur na haar eerste WTA Een-duisend-eindstryd in Wuhan, China. Swiatek het met ‘n besering aan haar linkerdy gesukkel, nadat sy 5-3 in die eerste stel voor was. Chwalinska het tien van die daaropvolgende elf potte gewen om die oorwinning te beklink. Sy speel vandag in die eindstryd teen die Britse speler Sonay Kartal. Kartal het twee valbylpotte teen die Letse speler Jelena Ostapenko ingepalm en is nou in die grootste eindstryd van haar loopbaan. Albei spelers hoop op ‘n eerste WTA Een-duisend-titel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….