Nuus 13:00
BULLETIN 6 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse rand is bestendig terwyl markte wag vir tekens van ‘n ooreenkoms tussen Amerika en Iran
# TLU SA sê hoër dieselpryse verhoog die druk op vervaardigers
# En rugby: Die Bokke kry spesiale truie vir die All Blacks-toetsreeks
# Die Suid-Afrikaanse rand was bestendig teenoor die Amerikaanse dollar tydens vroeë verhandeling terwyl beleggers die ontwikkelings in die Midde-Ooste fyn dophou. ‘n Swakker dollar en laer oliepryse ondersteun die plaaslike geldeenheid, terwyl hoop op vordering met ‘n vredesooreenkoms tussen Amerika en Iran vertroue in die mark versterk. Handelaars wag ook op belangrike Amerikaanse data later hierdie week vir leidrade oor die rigting van rentekoerse. Suid-Afrika se skuldmark het effens verstewig nadat opbrengste in vroeë verhandeling gedaal het.
Die landbou-organisasie TLU SA waarsku intussen dat die skerp styging in dieselpryse die land se landbousektor sal raak. Dieselpryse het met tussen een-rand-23- en een-rand-38-sent per liter gestyg terwyl die petrolprys met 52-sent gedaal het, aangehelp deur ‘n verlaging in die brandstofheffing. Bennie van Zyl van TLU SA sê die hoër dieselprys dwing hoër pryse af op bedryfs- en vervoerkoste gedurende oestyd en terwyl boere die grond voorberei vir volgende jaar se oeste:
# Die staatsbeheerde wapenvervaardiger Denel sê sy omkeerstrategie vorder, maar baie stadiger as beplan. Denel het aan die Parlement se staande komitee oor Toewysings gesê befondsings-tekorte en vertragings met die verkoop van bates wat nie deel van sy kernbedrywighede vorm nie, belemmer die uitvoer van die herstelplan. Die groep het 4,4-miljard-rand verseker van die 5,2-miljard-rand wat nodig is vir die herstelplan. Bedryfskoste is wel verlaag en nuwe internasionale kontrakte bekom, maar inkomste bly onder die teiken. Bestuur waarsku finansiële volhoubaarheid is steeds ‘n uitdaging.
# Die vakbondfederasie COSATU verwelkom die indiening van die Wysigingswetsontwerp op Indiensnemingsdienste in die Parlement. Dis daarop gemik om die raamwerk vir indiensnemingsdienste te versterk, die indiensneming van buitelandse burgers te reguleer en die toepassing van die wet te verskerp. Woordvoerder Matthew Parks sê dit laat die minister van Indiensneming en Arbeid toe om perke te stel op die aantal gedokumenteerde migrantewerkers in ‘n werkplek, ‘n streek of ‘n bepaalde ekonomiese sektor:
# Rugby: Die Springbokke se truie vir die toetsreeks teen die All Blacks bevat die lirieke van Suid-Afrika se nasionale volkslied in die vorm van die landsvlag. Die woorde in isiXhosa, isiZulu, SeSotho, Afrikaans en Engels sal op die spelers se bors gedra word. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, het verduidelik dit is die samevloeiing van Suid-Afrika se uiteenlopende stemme, geskiedenis en gemeenskaps-verteenwoordiging. Die twee lande speel op Ellispark, die Kaapstad-stadion, die FNB-stadion in Johannesburg en in Baltimore in Amerika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-31-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-722-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-280-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 82-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….