Nuus 13:00
BULLETIN 22 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra ‘n dringende vergadering met die nuwe leierskap van Hoër Onderwys
# ‘n Verdagte is vasgetrek in verband met die moord op die hoofouditeur van die Ekurhuleni-munisipaliteit
# En motorsport: MotoGP keer in 2027 na byna drie dekades terug na die Argentynse hoofstad, Buenos Aires
# Die vakbondfederasie Cosatu gaan ‘n dringende vergadering aanvra met die nuwe minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, en sy adjunk, Nomusa Dube-Ncube. Woordvoerder Matthew Parks sê dit sal verseker dat die departement sy pogings volhou en met die federasie sal saamwerk om in die vaardighede en opleiding van werkers te belê, veral om die befondsing van werker-opleiding te herstel:
# ‘n Verdagte is in hegtenis geneem in verband met die moord op die hoofouditeur van die Ekurhuleni-munisipaliteit in Gauteng. Mpho Mafole is verlede maand op die R23-pad in Kemptonpark doodgeskiet. ‘n Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê ‘n 40-jarige man sal na verwagting môre in die plaaslike Landdroshof verskyn. Sy sê die span soek ook na ‘n tweede verdagte, Hlanganani Mncwango, nadat ‘n lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik is:
# ActionSA het ‘n amptelike versoek aan die premier van Mpumalanga, Mandla Ndlovu, gerig vir ‘n gedetailleerde openbaarmaking van die regering se proses om die liggame van die drie Lily-mynwerkers te herwin. Die oorskot van Yvonne Mnisi, Pretty Nkambule en Solomon Nyerende, wat ondergronds vasgekeer is nadat die myn in 2016 ingestort het, is steeds nie herwin nie. ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê hulle is gefrustreerd oor die lang vertragings en uitsluiting van vorige beraadslagings:
# Die Buro vir Ekonomiese Navorsing sê die verbruikersprysaanwyser sal na verwagting in Junie effens styg, maar bly steeds binne die Suid-Afrikaanse Reserwebank se teiken van drie tot ses-persent. Voedselpryse, veral vleis, sal voedselinflasie na verwagting tot omtrent vyf-persent verhoog. Die algehele inflasiekoers sal waarskynlik ongeveer drie-persent bly. Statistieke Suid-Afrika sal môre die amptelike syfers bekend stel. Volgens die buro het die inflasieverwagtinge vir 2025 tot omtrent vier-persent gedaal terwyl voorspellings vir loonverhogings gestyg het.
# Motorsport: MotoGP keer in 2027 na byna drie dekades terug na die Argentynse hoofstad, Buenos Aires. Die motorfiets-reeks se Argentynse wedrenne is sedert 2014 op die Termas de Río Hondo-baan in die provinsie Santiago del Estero aangebied. Buenos Aires se regeringshoof, Jorge Macri, sê die Autodromo Oscar y Juan Galvez sal van Oktober af omvattend opgeknap word om teen 2027 gereed te wees. Dit sluit werk aan die baan, die renbaanperk en veiligheidsones in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-279-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-385-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….