Nuus 13:00
BULLETIN 29 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa verwelkom bykomende voorlopige maatreëls deur die Internasionale Geregshof
# KwaZulu-Natal verwag ‘n ekonomiese inspuiting van 2,5-miljard-rand oor die Paasvakansie
# En Rugby: Vier sleutelspelers is onder ‘n nuwe afrigter terug by die Blitsbokke
# President Cyril Ramaphosa het bykomende voorlopige maatreëls deur die Internasionale Geregshof verwelkom, om Israel te verhoed om onherstelbare skade aan te rig met sy voortslepende aanvalle op Gaza. Die Hof het saamgestem met Suid-Afrika se siening dat die situasie in Gaza aansienlik versleg het sedert die Hofbevel op 26 Januarie, weens Israel se versuim om aan die bevel te voldoen. Die president se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê dit is nodig vir die hof om verdere voorlopige maatreëls aan te dui:
# Toerisme KwaZulu-Natal verwag ‘n ekonomiese inspuiting van 2,5-miljard-rand met duisende vakansiegangers wat na die provinsie stroom vir die Paasseisoen. Met ‘n beraamde bedbesetting van 65-persent en nagenoeg 600-duisend besoekers, wys die provinsiale LUR Siboniso Duma op die provinsie se toeriste-aantreklikhede, te midde van die winter wat naderkruip. Plekke soos uShaka Marine World en Splashy Fen bied aan besoekers ‘n magdom vermaak. Die hipermoderne tegnologie van die KwaZulu-Natalse Haaieraad toon die provinsie se toewyding aan strandtoerisme, veiligheid en die ekonomiese ontwikkeling van die streek. Die LUR se woordvoerder, Ndanezinhle Sibiya:
Intussen sê die Nasionale Seereddingsinstutuut nooddienste is die Paasnaweek op ‘n hoë gereedheidsgrondslag. Met die volmaanspringety nog aktief langs die kuslyn word baaiers, bootvaarders en kusstappers gevra om versigtig te wees. Die gety veroorsaak hoër en laer seevlakke as gewoonlik. Dit sal na verwagting aan die einde van die Paasnaweek begin afskaal. Die woordvoerder van die NRSI Craig Lambinon herinner mense aan die dra van reddingsbaadjies, en vra ouers om hulle kinders dop te hou:
# Rugby: Die nuwe Blitsbok-hoofafrigter Philip Snyman het spelers herroep vir volgende naweek se Hongkong Sewes. Christie Grobbelaar, Ronald Brown, Dewald Human en Quewin Nortjé het almal die aaklige Noord-Amerikaanse deel van die wêreldreeks misgeloop, waarin Suid-Afrika net ses punte kon insamel, wat hulle sewende op die punteleer gelaat het. Dit het daartoe gelei dat Snyman Sandile Ngcobo vervang het. Na Hongkong verskuif die toer aan die begin van Mei na Singapoer, en eindig einde Mei in Madrid.
# En laastens: Duitsland se geliefde worshond mag dalk bedreig wees. Die land se nasionale hondeklub oorweeg ‘n nuwe konsepwetsontwerp wat kyk na ‘n verbod op die teel van honde met skelet-afwykings. Die konsepwetsontwerp poog om bestaande wette oor sogenaamde “martel-telery” te versterk en kan die teel van rasse wat geneig is tot spesifieke probleme verbied, soos die gereelde ruggraatprobleme wat gesien word in honde met kort bene en ‘n lang rug. Ander gunstelinge soos die Duitse Herdershond, die Schnauzer, en selfs die Beagle, kan ook geraak word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….