Nuus 11:00
BULLETIN 15 Oktober 11 vm
Goeiemôre/Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Moody’s sê Suid-Afrika beweeg in die regte rigting vir ‘n beter kredietgradering
# Solidariteit verwelkom ‘n geskil in die regering van nasionale eenheid oor AGOA
# En motorsport: Minister McKenzie hou vol Suid-Afrika se bod is op dreef om ‘n Grand Prix in 2028/29 aan te bied
# Die kredietgraderingsagentskap, Moody’s, sê hy kan Suid-Afrika ‘n beter gradering gee as sy fiskale prestasie aanhou verbeter. Die agentskap het in Mei die land se oorkoepelende kredietgradering van bestendig na positief aangepas terwyl sy langtermyn-gradering vir plaaslike en buitelandse valuta op BA-2 bly. Moody’s se visepresident, Evan Wohlmann, sê die voorspelling berus op die moontlikheid dat skuld, wat in die laaste fiskale jaar op 87-persent van die bruto binnelandse produk gestaan het, teen die einde van die dekade tot 84-persent kan daal, ondersteun deur ʼn beter ekonomiese uitset.
# Solidariteit verwelkom die DA en Vryheidsfront Plus se beplande optrede in die regering van nasionale eenheid oor die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika. Die VF Plus het formeel ‘n geskil verklaar, terwyl die DA sê die saak sal op die kabinetsagenda geplaas word met die moontlikheid om tot geskil verklaar te word. Connie Mulder van Solidariteit sê die regering se roekelose buitelandse beleid kan daartoe lei dat Suid-Afrika van AGOA uitgesluit word:
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA het die betaaldatums vir maatskaplike toelaes vir volgende maand gewysig in die aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing. Pensioentrekkers se toelaes word op 30 Oktober betaal, toelaes vir gestremdes op 2 November en kindertoelaes die derde. Betalings vir toelaes wat onder hersiening is, sal op 5 November plaasvind. Andile Tshona van SASSA vra begunstigdes om by die nuwe datums te hou en die vereiste hersienings by te woon:
Nuus uit die buiteland:
# Die stroomdiens-reus, Netflix, gaan ses-persent van sy arbeidsmag, of sowat ‘n duisend werknemers aflê wat die meeste is sedert 2022. Die stap raak hoofsaaklik sy menslike hulpbron-, reg-, produk- en tegnologie-spanne. Netflix se mede-bestuurshoofde, Greg Peters en Ted Sarandos, hou vol die sakeonderneming is gesond, maar hulle moet voorkeur gee aan waar personeel en hulpbronne ingespan word. Mededinging in die stroom-ruimte raak strawwer met platforms soos YouTube en TikTok wat kykers lok met gratis inhoud wat deur gebruikers geskep is. Dit bied hulle ‘n koste-voordeel bo Netflix.
# Motorsport: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, is steeds vol vertroue dat Suid-Afrika in die nabye toekoms ʼn Formule Een Grand Prix sal aanbied. Rwanda het ʼn plek op die F1-program verseker vir 2030, wanneer die sport die eerste keer sedert 1993 na Afrika terugkeer. McKenzie verwerp berigte dat Rwanda Suid-Afrika se pogings om ʼn Grand Prix aan te bied, in die wiele gery het en sê die land se bod bly op koers:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-56-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-810-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-142-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 106-dollar-50-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….