Nuus 13:00
BULLETIN 24 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom stel fase 2-beurtkrag in vir die week
# Die suid-ooste van Brasilië word geteister deur storms met minstens 12 mense wat reeds omgekom het
# En, rugby: Die Springbok-vroue wen hulle seisoen-aanvangswedstryd in Spanje
# Eskom stel fase 2-beurtkrag in, van vier-uur vanmiddag tot vyf-uur môre-oggend. Die onderbrekings word dan opgeskort tot vier-uur môremiddag. Die siklus sal na verwagting daagliks herhaal word. Die kragvoorsiener sê hy moet fase 2-beurtkrag gebruik om sy noodreserwes aan te vul.
# Die Privaat Vereniging van Renosterbewaringsreservate eis vinnige en ernstige optrede teen regeringsamptenare wat hulle skuldig maak aan stropingsverwante misdaad. Dit volg op die heraanstelling van ‘n natuurbewaringsbeampte van Noordwes se Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewing, Bewaring en Toerisme, Mxolisi Stephen, wat voorheen aangekla is van beweerde stropingsoortredings. Daar is agt aanklagte teen Stephen van die beweerde verwydering van renosterhorings en die vervoer daarvan sonder permitte. Glen Phillips van die vereniging vra aanspreeklikheid:
# Minstens 12 mense is dood in die suid-ooste van Brasilië nadat ‘n kragtige storm die bergagtige deel van die staat Rio de Janeiro getref het, waar reddingspanne te doen het met wat hulle ‘n ‘kritieke toestand’ noem. Die storm woed te midde van uiterste weersomstandighede waarmee Brasilië die afgelope tyd geteister word. Dit volg op ‘n rekord-hittegolf, waartydens humiditeit die hitte-indeks laat opskiet het na meer as 62-grade Celsius. ‘n Span van AFP het die redding beleef van ‘n meisie wat meer as 16-uur vasgekeer was onder rommel. Meer as 90 mense is al gered.
# Rugby: Die hoofafrigter van die Springbok-vroue, Louis Koen, het sy span gelukgewens met hulle 15-13-oorwinning oor Spanje gister in hulle seisoen-aanvangswedstryd in Valladolid. Jakkie Cilliers het laat in die wedstryd met ‘n strafskop geslaag, terwyl Spanje in die laaste minuut onsuksesvol was daarmee. Die Bok-vroue speel teen opponente wat hoër op die ranglys is ter voorbereiding vir die Rugby Afrika Vrouebeker in Madagaskar. Hulle kom Saterdag in Londen teen Amerika te staan:
# En, laastens: Die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing hou van môre tot Woensdag toesig oor die eerste Biodiversiteits-ekonomie en -beleggingsindaba in Boksburg, Gauteng. Met die tema, ‘Kollektiewe Optrede vir Florerende Mense en Natuur‘, is die mikpunt om die Nasionale Biodiversiteits-ekonomie-strategie te hersien. Dit bevorder bewaring, spesie- en ekostelsel-bestuur, terwyl dit groei en transformasie in die sektor aanmoedig. Die doelwitte sluit in, om die aandag te vestig op die belangrikheid van die biodiversiteits-ekonomie, om aandag te gee aan armoede, werkloosheid en ongelykheid, en belegging te mobiliseer, en om biodiversiteits-produkte en -dienste bekend te stel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….