Nuus 13:00
BULLETIN 3 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA wil hê president Ramaphosa moet Dipuo Peters afdank
# Eskom verwelkom ‘n verslag oor die beoordeling van sy steenkoolkragstasies
# En, motorsport: Daar is net geen keer aan Verstappen nie
# Die DA eis president Cyril Ramaphosa moet sy besluit oor die skorsing van die adjunk-minister van Kleinsakeontwikkeling, Dipuo Peters, hersien en haar afdank. Jan de Villiers van die DA sê Peters het haar tydens haar ampstermyn in wat hy beskryf as die staatskapingskabinet van die voormalige president Jacob Zuma, aan growwe nalatigheid skuldig gemaak. Sy het versuim om ‘n uitvoerende hoof vir Prasa aan te stel en die instelling se raad afgedank na hy 14-miljard-rand se finansiële ongerymdhede onthul het:
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die regerende party is verbind tot die verlaging van die lewenskoste en die vermindering van hongersnood in die land. Mbalula het ondersteuners by die Galeshewe-stadion in Kimberley tydens die ANC se manifesbekendstelling in die Noord-Kaap toegespreek. Hy sê wanneer mense na die gang van die ekonomie kyk, besef hulle voedselpryse het gestyg. Die party moet hieraan werk en pryse verlaag terwyl hy armoede aktief beveg. Volgens Mbalula sal die ANC se beleid dit moontlik maak.
# Eskom het die aanbevelings in ‘n verslag verwelkom wat in opdrag van die Nasionale Tesourie opgestel is as deel van die plan om die kragverskaffer weer volhoubaar te maak. Die verslag dek ‘n oorsigtydperk van Maart tot Mei verlede jaar, wat saamval met die inwerkingstelling van die Eskom-raad se opwekkingsherstelplan. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die instelling het in Oktober verlede jaar talle van die verbeterings wat reeds gedoen is, bekendgestel:
# Die Nigeriese regering eis meer as 190-miljard-rand se vergoeding van die kripto-geldeenheid maatskappy, Binance. Hy sê Binance het buitelandse valutakoerse gemanipuleer deur geldeenheidspekulasie en koersvasstelling, wat veroorsaak het dat die naira die afgelope paar maande byna 70-persent van sy waarde verloor het. Die BBC berig twee Binance bestuurders is verlede week gearresteer. Kripto-geldeenheidtransaksies ter waarde van sowat 12-persent van Nigerië se totale inkomste of BBP, het in die jaar tot Junie 2023 plaasgevind.
# En, motorsport: Max Verstappen het sy oorheersing van die eerste Grand Prix-wedren van die seisoen in Bahrein beskryf as selfs beter as wat hy verwag het. Die Nederlander het vir die derde agtereenvolgende keer wat hy sy titel verdedig, stadig maar seker onder sy mededingers weggetrek om 22-sekondes voor sy Red Bull-spanmaat Sergio Perez te eindig. Verstappen se sege is die 55ste van sy F1-loopbaan. Dit gee hom ‘n vroeë voorsprong in die bestuurdersrangorde in die aanloop tot die volgende wedren in Jeddah, Saoedi- Arabië – voor Perez en Carlo Sainz van Ferrari wat derde was in Bahrein.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….