Nuus 11:00
BULLETIN 19 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa verleng die sperdatum vir die Madlanga-kommissie se finale verslag
# SALGA hernu sy verbintenis tot die beëindiging van geslagsgeweld en vrouemoord
# En sokker: Mamelodi Sundowns is gereed vir die Al Ahli-uitdaging
# President Cyril Ramaphosa het die sperdatum vir die Madlanga-kommissie se finale verslag verleng tot 25 Januarie 2027. Die kommissie ondersoek misdadigheid, politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel. Die verlenging sal die kommissie toelaat om bykomende getuienis te verwerk, insluitend getuienis deur kenners wat aanbevelings gedoen het om binne die kommissie se ondersoekmandaat te val. Ramaphosa het die kommissie bedank vir sy werk en wetstoepassingsagentskappe geloof vir die opvolg van bewyse wat uit die verhore na vore gekom het.
# Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging het sy verbintenis tot die bekamping van geslagsgeweld en vrouemoord herbevestig. SALGA-leiers en personeel het tydens ‘n nasionale solidariteitsbyeenkoms in Pretoria kerse aangesteek ter nagedagtenis aan die vroue wie se liggame onlangs in Ekurhuleni gevind is. SALGA se uitvoerende hoof, Sithole Mbanga, sê die bekamping van geweld teen vroue verg meer as openbare verbintenisse. Hy sê leiers moet daadwerklik optree en slagoffers en oorlewendes ondersteun:
# Brandbestryders het aansienlik vordering gemaak om ‘n berg-brand bo die La Plaisir-wynlandgoed in die Kaapse Wynlande onder beheer te bring. Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se woordvoerder, Jo-Anne Otto, sê munisipale spanne, grondspanne en vrywilligers het oornag gewerk om die brand te bestry. Die spanne kon te midde van sterk wind, ‘n steil terrein en vlamme van tot drie meter, verhoed dat die brand na nabygeleë boorde en wingerde versprei. Sy sê koeler toestande het gehelp, maar daar is steeds brandpunte wat weer kan opvlam:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het op sosiale media gesê hy verbied CNN, MSNBC en Politico uit die Withuis omdat hierdie nuuskanale volgens hom herhaaldelik fopnuus versprei. Hy waarsku ander nuuskanale kan dieselfde behandeling kry. Volgens Reuters is dit nog onduidelik hoe die verbod toegepas sal word. Joernaliste van die drie nuuskanale was ná die aankondiging steeds aan die werk by die Withuis en hul mediatoegang is nog nie teruggetrek nie.
# Sokker: Mamelodi Sundowns se afrigter, Miguel Cardoso, sê Al Ahli se sterbelaaide span skrik nie sy span af nie. Sundowns pak die Saoedi-Arabiese klub vanmiddag op Loftus Versfeld in die eerste ronde van die FIFA Afrika-Asië-Stille Oseaan-beker. Cardoso sê die uitslag sal afhang van die span se vertoning, moeite en konsentrasie. Sundowns is nog onoorwonne hierdie seisoen en het vir die toernooi gekwalifiseer nadat die klub die CAF Kampioeneliga gewen het. Cardoso sê die span is trots om Afrika te verteenwoordig:
# En ten slotte: Wetenskaplikes het ‘n nuwe wildekatspesie in Bolivia geïdentifiseer – die eerste lewende katspesie wat in meer as ‘n eeu formeel beskryf is. Die klein gespikkelde kat, wat as die “Tilcayo” bekend staan, leef in die Yungas-oerwoud waar die Andesgebergte en die Amasone-reënwoud mekaar ontmoet. Dit is kleiner as ‘n gemiddelde huiskat en weeg ongeveer 1,4-kilogram. Genetiese toetse het bevestig dis ‘n nuwe spesie, nadat navorsers 38 tierkatte van regoor Suid-Amerika bestudeer het. Volgens wetenskaplikes is daar min bekend oor die skugter dier, waarvan die habitat deur ontbossing en mynbou bedreig word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….