Nuus 13:00
BULLETIN 1 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa skors adjunkminister Dipuo Peters
# AZAPO vra die afdanking van minister Pravin Gordhan
# En, Rugby: Loftus sal na verwagting stampvol wees vir die Bulle-Stormers-kragmeting
# President Cyril Ramaphosa het die adjunkminister van Kleinsake-ontwikkeling, Dipuo Peters, geskors. Dit volg nadat die Parlement se gesamentlike komitee oor Etiek en Ledebelange bevind het Peters het die Etiese Gedragskode oortree in haar voormalige portefeulje as minister van Vervoer. ‘n Klagte is in 2022 teen Peters ingedien omdat sy nie ‘n uitvoerende hoof vir Prasa aangestel het nie, en die raad afgedank het. Sy het ook versoek Prasa-busse moet vir die ANC gebruik word vir vieringe op 8 Januarie 2015, waarvoor nie betaal is nie. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het die skorsing en sanksies bevestig:
In nóg ‘n verwikkeling, vra die Azanian People’s Organisation Ramaphosa om Pravin Gordhan onmiddellik te verwyder as minister van Openbare Ondernemings, en persoonlik te verseker die besonderhede van die verkoop van die Suid-Afrikaanse Lugdiens word volledig bekend gemaak. AZAPO se woordvoerder, Jabu Rakwena, sê niks ontbloot die vernietigende gevolge van kapitalisme soos die verkoop van die nasionale lugredery aan ‘n privaat instelling bekend as Takatso en die geheimhouding rondom die transaksie nie:
# Die polisie in Gauteng sê hy sal voortgaan om hom deur Operasie Shanela op misdaadbrandpunte toe te spits en onder meer onwettige drankhandelaars vas te vat. Altesaam 354 verdagtes is dié week tydens hoësigbaarheidsoperasies in Tshwane in hegtenis geneem. ‘n Polisiewoordvoerder, Johan van Dyk, sê drie mense is vir moord aangekeer, vyf vir poging tot moord en vyf weens verkragting:
# Rugby: Daar is groot afwagting vir môre se Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd tussen die Bulle en die Stormers op ‘n hopelik volgepakte Loftus Versfeld. Die span van Pretoria het in al vyf sy vorige wedstryde in die kompetisie teen hul aartsvyande verloor en wil dus nou ‘n punt bewys. In die ander Suid-Afrikaanse derby sal die Leeus gasheer wees vir die Haaie op Ellispark. Die Bulle is tans in die derde plek op die punteleer, die Stormers sesde, die Leeus elfde en die Haaie 16de.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-21-sent teen die dollar, 20-rand-78-sent teen die euro en 24-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-205-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-44-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-60-sent per vat.
# En, laastens: Burgerlike organisasies en pro-Palestynse aktiviste het die uitwerking van die konflik tussen Israel en Hamas op ‘n vergadering by die Universiteit van Kaapstad bespreek. Een-duisend-200 mense is op sewe Oktober verlede jaar vermoor toe Hamas Israel aangeval het. Volgens Hamas is meer as 30-duisend mense sedertdien in Israelse wraakaanvalle dood. Die Tshisimani-sentrum se woordvoerder, Siviwe Mdoda, beklemtoon die belangrikheid van verenigde optrede teen onreg en sê baie lesse kan uit die voortslepende konflik geleer word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….