Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met krieket: Suid-Afrika se aartsvyand, Australië, kom vandag in die land aan vir ‘n toer van drie eendagwedstryde en drie toetse. Die besoekers het Zimbabwe pas 3-0 geklop in ‘n eendagreeks, hoewel gister se laaste kragmeting ‘n naelbytstryd was wat Australië eers van die voorlaaste bal kon wen met nege paaltjies plat. Die Proteas het intussen talle gereelde spelers ruskans gegee tydens die onlangse besoek aan Namibië. Die eerste eendagwedstryd tussen Suid-Afrika en Australië word Donderdag in Durban gespeel, en die eerste toets begin op dieselfde veld op 9 Oktober.
Nog krieketnuus: Die Protea-vroue se hoofafrigter, Mandla Mashimbyi, sê hulle het hul doelwitte op die Zimbabwiese toer bereik en ook meer spelers ‘n geleentheid gegee. Suid-Afrika het 5-0 skoonskip gemaak in hul geskiedkundige eerste T20-reeks teen hul buurvroue. Kaptein Laura Wolvaardt en Miané Smit het uitstaande vertonings gelewer en honderdtalle aangeteken. Annerie Dercksen het in die derde wedstryd vyf paaltjies laat kantel. Mashimbyi sê alle spelers wat van nou af gekies word, kan vir 2029 se Wêreldbekertoernooi in aanmerking kom.
# Rugby: Die ervare tweemanskap, Pieter-Steph du Toit en Damian de Allende, sal nie Sondag in die Springbokke se eenmalige toets teen Australië in Perth speel nie. Hulle is ná ‘n veeleisende werkslas vrygestel. Die afrigter, Rassie Erasmus, sê die toergroep beskik oor genoeg ervaring vir die wedstryd teen die Wallabies. Die wedstryd is vir albei spanne belangrik, aangesien die Wêreldbekertoernooi volgende jaar in Australië aangebied word en die Bokke op 3 Oktober in hul openingswedstryd in Adelaide teen Italië te staan kom.
Intussen moet die All Blacks se kaptein, Ardie Savea, ‘n skoueroperasie ondergaan en sal waarskynlik nie weer speel voor volgende jaar se Super Rugby Pacific-seisoen nie. Hy het sy skouer beseer in die derde toets van die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks, wat Suid-Afrika 3-1 gewen het. Nog ‘n losvoorspeler, Luke Jacobson, het reeds ‘n operasie ondergaan om ‘n sening in sy elmboog te heg en die vleuel Caleb Clarke sukkel ook met ‘n skouersening. Die All Blacks berei tans voor vir volgende maand se Bledisloebeker-toetse teen die Wallabies.
# En laastes, tennis: Duitsland, Brittanje en Spanje is deur na die Davisbeker-eindtoernooi. Die Amerikaanse Ope-kampioen, Alexander Zverev, het Dino Prizmic verslaan om Duitsland se oorwinning van 3-1 oor Kroasië te beklink. Brittanje is ook deur nadat die dubbelspel-span, Henry Patten en Neal Skupski, met Gonzalo Escobar en Diego Hidalgo afgereken het om ʼn sege van 3-0 oor Ecuador te behaal. Spanje het Chili 3-0 verslaan. Die drie lande sluit aan by die gasheer, Italië, Kanada, die Tsjeggiese Republiek, Suid-Korea en Oostenryk wanneer die eindtoernooi in November in Bologna plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….