Nuus 13:00
BULLETIN 19 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Inkatha Vryheidsparty kritiseer die voorgestelde verkiesingsdatum
# Rugby: Alex Mitchell van Engeland is nie beskikbaar vir die wedstryd teen Skotland nie
# En, die Suid-Afrikaanse Lugdiens vier 90-jaar in lugvaart
# Die IVP kritiseer adjunk-president Paul Mashatile se voorstel dat die algemene verkiesing dalk op 24 Mei gehou kan word. Die party se woordvoerder, Mkhuleko Hlengwa, veroordeel die gedagte dat die verkiesing op ‘n Vrydag gehou kan word, en beweer dit is ‘n politieke taktiek van die ANC om die uitslag te beïnvloed. Die IVP en verskeie ander politieke partye het president Cyril Ramaphosa gevra om die stemdatum aan te kondig:
# Business Leadership South Africa sê die begrotingsrede is die belangrikste nóg vir sake-ingesteldheid. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, lewer Woensdag die begrotingsrede. BLSA se bestuurshoof, Busisiwe Mavuso, sê daar is duidelik gepoog om besteding in toom te hou, maar die uitdaging is dat die ekonomie nie saamgewerk het nie. Sy sê ván die sleutelkwessies waaroor sy iets in die begroting verwag sluit in die finansiële verknorsing van Transnet en Eskom, beleggings in infrastruktuur en belastingkoersaanpassings.
# Die Stad Kaapstad sê hy is terdeë bewus van die ekonomiese en omgewingswaarde van die sirkulêre ekonomie waardeur produkte hergebruik of herwin word in plaas daarvan om stortingsterreine te vul. Dit is ‘n sektor wat volgens die GreenCape 2022 Afval-markintelligensieverslag die potensiaal het om tot vyf-miljard-rand se waarde tot die stad se ekonomie by te voeg. Die burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Groei, James Vos, sê Kaapstad kan help om die sinergie tussen maatskappye en oor sektore heen te versterk:
# Rugby: Engeland se skrumskakel, Alex Mitchell, is weens ʼn kniebesering nie beskikbaar vir Saterdag se Sesnasies-wedstryd teen Skotland nie. Die 26-jarige speler is in Augustus aanvanklik as nood-plaasvervanger vir die Wêreldbeker aangetree nadat Jack van Poortvliet beseer is. Hy het in agt van Engeland se laaste tien wedstryde vir die beginspan uitgedraf. Mitchell sal waarskynlik deur Danny Care of Ben Spencer vervang word. Engeland is met agt punte tweede op die Sesnasies-ranglys ná die verdedigende kampioene van Ierland.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 52-duisend-175-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-19-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-63-sent per vat.
# En, ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het ‘n mylpaal bereik met sy viering van 90-jaar in die lugvaart-bedryf. Die SAL het byna ineengestort weens wanbestuur en finansiële onrus, maar het suksesvolle sakeredding ondergaan en likwidasie ontduik. Die lugredery het daarna oorweeg om ‘n meerderheid aandele te verkoop aan Takatso Aviation, maar die transaksie is steeds hangende. Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het tydens die feesvierings verseker geen verdere reddingsboei word benodig nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….