Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 8 September 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander, het Suid-Afrikaanse ondersteuners geprys vir die atmosfeer tydens die eerste Rugby’s Greatest Rivalry-reeks, wat die land aan besoekers van reg oor die wêreld bekend gestel het. Die Springbokke is 2-1 voor in die reeks teen die All Blacks met die laaste wedstryd Saterdag in Baltimore, Amerika. Alexander sê die ekonomiese uitwerking van die reeks sal gemeenskappe reg oor die land bevoordeel en voortbestaan verbeter. Hy sê SA Rugby het aandagtig geluister na aanbevelings oor hoe om toekomstige reekse te verbeter.
Springbok-afrigter Rassie Erasmus verwag intussen Saterdag ‘n reuse-aanslag van die All Blacks. Hy het twee veranderings gemaak aan sy opdrafspan – Damian Willemse vervang die beseerde Cheslin Kolbe op heelagter, en Morné van den Berg begin op skrumskakel, met Cobus Reinach op die bank. Erasmus glo die Bokke moet hulle aanval verder verskerp om te wen en die reeks 3-1 te beklink:
# Sokker: ‘n Presidentskandidaat van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Sandile Zungu, het SAFA tot Donderdag tyd gegee om Bafana Bafana se spelers en tegniese span se Wêreldbeker-bonusse te betaal. SAFA skryf die vertraging toe aan uitstaande nakoming van internasionale belastingvereistes in Amerika en Mexiko, waar Suid-Afrika wedstryde gespeel het, om sowat 2,5-miljoen-rand aan elke speler te betaal. Zungu waarsku die verantwoordelike persone sal afgedank word as hy Saterdag verkies word:
# Krieket: Die snelbouler Gerald Coetzee kry die eerste keer in drie jaar die kans om Suid-Afrika te verteenwoordig in die drie eendagwedstryde teen Australië. Hy is ingesluit in die groep van 16 spelers vir die reeks, wat die 24ste in Durban begin. Die tweede wedstryd word drie dae later op die Wanderers gespeel, en die laaste een die 30ste in Potchefstroom. Coetzee het tydens 2023 se Wêreldbekertoernooi in Indië laas ‘n eendagwedstryd vir die Proteas gespeel.
# En tennis: Die tweede-gekeurde Elena Rybakina van Kazakstan het nog net een oorwinning nodig om wêreld-nommer-een te word. Sy is die eerste keer in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope nadat sy Naomi Osaka van Japan verslaan het. Rybakina speel volgende teen die Chinese kwalifiseerder Zheng Qinwen, wat die Pool Iga Swiatek uitgeskakel het. 2023 se kampioen, Coco Gauff, het haar Amerikaanse landgenoot Iva Jovic geklop en speel volgende teen Mirra Andreeva van Rusland, wat die Oostenryker Anastasia Potapova verslaan het en die eerste keer in die kwarteindronde is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….