Nuus 12:00
BULLETIN 23 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padvragvereniging sê wetgewing oor die indiensneming van buitelanders word nie afgedwing nie
# Krieket: Suid-Afrika se onder-19-vrouespan toer volgende maand in Pakistan
# En die voormalige voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserwe, Alan Greenspan, sterf op 100
# Die Padvragvereniging sê bestaande arbeids- en sektorspesifieke wetgewing word eenvoudig nie afgedwing nie en lei tot die indiensneming van ongedokumenteerde buitelanders. Die uitvoerende hoof, Gavin Kelly, sê die onmiddellikste uitwerking van strenger afdwinging teen ongedokumenteerde buitelanders kan op grensposte gevoel word, hetsy per land, lug of see. Hy sê indien dit streng toegepas word, kan agterstande, opeenhopings en toue by paspoortbeheerpunte vorm:
# Die Verkiesingskommissie het ‘n ondersoek begin nadat beeldmateriaal van ‘n kiesersregistrasiestasie in Victor Khanye in Mpumalanga na vore gekom het wat beweerde ANC-kleure en verskeie identiteitsdokumente naby ‘n registrasietoonbank toon. Die kommissie beskou die saak as ernstig. Uitvoerende hoof Sy Mamabolo sê enige gedrag wat die integriteit van die verkiesingsproses ondermyn, sal nie geduld word nie, en gepaste stappe sal gedoen word indien misdrywe gevind word:
Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê intussen ‘n aanval op politieke verteenwoordigers of ondersteuners, ongeag hul party-verbintenis, is ‘n aanval op die demokratiese regte van alle Suid-Afrikaners. Dit volg na ‘n vlaag vermeende politieke moorde tydens die afgelope naweek se kieserregistrasieveldtog. Cachalia sê politieke geweld het geen plek in ‘n grondwetlike demokrasie nie:
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse onder-19-vrouespan toer volgende maand die eerste keer ooit in Pakistan. Die veelsydige Mieke van Voorst is aangewys as kaptein van die groep van 15, wat ses spelers insluit wat vroeër vanjaar brons vir die land verower het in die Patricia Kambarami-bekertoernooi in Nigerië. Vyf internasionale kragmetings sal gespeel word, almal dag-aand-wedstryde in Karachi. Dit sal gebruik word as voorbereiding vir volgende jaar se onder-19-T20-Wêreldbekertoernooi in Bangladesj en Nepal.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-201-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-101-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 77-dollar-25-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserwe, Alan Greenspan, is op 100-jarige leeftyd dood. Sy vrou van 29 jaar, Andrea Mitchell, sê hy het tuis gesterf weens komplikasies van Parkinson-siekte. Greenspan het een van die invloedrykste ekonomiese beleidmakers van sy tyd geword nadat president Ronald Reagan hom in 1987 aangestel het. Hy het die posisie beklee tot sy aftrede in 2006. Greenspan se termyn was die tweede langste en net vier maande korter as dié van William McChesney Martin, wat van 1951 tot 1970 gedien het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….