Nuus 12:00
BULLETIN 9 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Isuzu Motors in Suid-Afrika herroep meer as twee-duisend bakkies oor ‘n rempedaalkwessie
# Duisende passasiers is op Britse lughawens gestrand ná ‘n probleem met lugverkeerbeheer
# En tennis: Shelton skakel Alcaraz uit in ‘n vyfstel-riller in die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope
# Die Nasionale Verbruikerskommissie sê Isuzu Motors Suid-Afrika het ‘n veiligheidsterugroep uitgereik vir twee-duisend-582 RG19-bakkies wat tussen 11 Mei en 3 Julie vanjaar in die mark beskikbaar gestel is. Volgens Isuzu is daar ‘n moontlikheid dat die rempedaal se spilpunt kan loskom. Die kommissie se woordvoerder, Phetho Ntaba, sê van die voertuie is ook uitgevoer na Botswana, Malawi, Mosambiek, Namibië, Zimbabwe, Tanzanië, Eswatini, Uganda en Zambië:
# Die Verkiesingskommissie verwag dat meer politieke partye die Verkiesingshof gaan nader oor die indiening van kandidate-lyste. Die ANC daag die OVK se besluit uit om nie sy kandidate in ses munisipaliteite te registreer nie. Volgens die party kon hy kandidate nie registreer nie weens ‘n probleem met die stelsel. Die Verkiesingshof het intussen die United Democratic Front se dringende aansoek om die registrasie van kandidate verwerp. Die kommissie beklemtoon daar was geen probleme met die stelsel wat partye verhoed het om die sperdatum te haal nie.
Nuus uit die buiteland:
# Duisende passasiers is steeds gestrand op Britse lughawens nadat die Britse Lugverkeerbeheerdiens ‘n tegniese fout ervaar het. Die probleem het gister gelei tot sowat een-duisend-300 kansellasies van vlugte na of vanaf lughawens in Brittanje. FlightRadar berig Heathrow, Gatwick, Manchester en Birmingham is die swaarste getref. Meer as 250 vlugte is reeds vandag gekanselleer. Die lugverkeerbeheerdiens sluit ‘n kuberaanval as die oorsaak uit. Selfs al word die probleem opgelos, sal die ontwrigting waarskynlik voortduur weens die agterstande.
# Tennis: Die Amerikaner Ben Shelton het die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, in ‘n vyfstel-riller uitgeskakel om die Amerikaanse Ope se halfeindronde die eerste keer sedert 2023 te haal. Die agtste-gekeurde het die Spanjaard na vier-uur-en-28-minute geklop in die kwarteindstryd, wat half-vier die oggend in New York geëindig het – die laatste ooit vir ‘n wedstryd op die hardebaan-toernooi. Shelton speel nou om ‘n plek in die eindstryd teen sy landgenoot Frances Tiafoe, wat twee stelle agter was voor hy nog ‘n Amerikaner, Alex Michelsen, geklop het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-477-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-403-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 101-dollar-42-sent per vat.
# En ten slotte: Die Rethink Your Drink-veldtog vra ‘n gekoördineerde nasionale strategie om fetale alkohol-spektrumversteuring te voorkom. Vandag is Internasionale Fetale Alkohol-spektrumversteuring-bewustheidsdag, waartydens die gevare van drankgebruik tydens swangerskap uitgelig word. Daar word geraam dat sowat een uit elke tien Suid-Afrikaanse kinders met FASD saamleef. Woordvoerder Kashifa Ancer sê gefragmenteerde pogings deur gesondheids-, onderwys- en maatskaplike dienste misluk om die toestand te voorkom en die lewenslange gevolge daarvan voldoende teen te werk:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….