Nuus 12:00
BULLETIN 22 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus sê Suid-Afrikaners verdien beter as wat die ANC oor die afgelope 30 jaar gelewer het
# Die Internasionale Energie-agentskap se hoof waarsku die internasionale oliemark kan teen Julie ‘n gevaarsone betree
# En sokker: Hugo Broos wys ‘n voorlopige Bafana Bafana-groep van 32 aan vir die Wêreldbekertoernooi
# Die Vryheidsfront Plus sê die land is op die rand van ineenstorting na meer as drie dekades van regering onder die ANC. Die party het sy registrasieveldtog vir November se plaaslike regeringverkiesing in Centurion bekend gestel. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, sê onbevoegdheid en korrupsie het staatsinstellings weggevreet en munisipaliteite laat ineenstort. Hy sê plaaslike regering, die hoeksteen van dienslewering, is in ‘n bestaanskrisis met munisipaliteite wat bankrot en wanfunksioneel is. Hy sê Suid-Afrikaners verdien beter as wat die ANC gelewer het.
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê forensiese patologie-sentrums in Pretoria, Diepkloof en Hillbrow se bedrywighede het hervat nadat werkers vroeër die week betoog het. Die staking het veroorsaak dat baie gesinne nie hul geliefdes se oorskot kon kry om te begrawe nie, wat begrafnisreëlings vertraag het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê hulle gaan die probleme wat geopper is deur die regte interne prosesse hanteer:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor berigte dat staatsamptenare se mediese fonds gewaarsku het die skema se finansiële volhoubaarheid kan onder die wetlik-voorgeskrewe drempel daal. Dit volg te midde van voorgestelde tariefaanpassings. Claude Naicker sê die vakbond veroordeel enige poging om staatsamptenare regstreeks of andersins die skuld te gee vir ’n selfgemaakte krisis wat voortspruit uit GEMS se bestuurs- en beheerfoute:
# Die Internasionale Energie-agentskap waarsku indien daar geen vordering is met die beëindiging van die Midde-Oosterse oorlog nie, sal oliemark-gevare teen die einde van Julie ‘n rooi sone betree. Aanvalle op energie-infrastruktuur en die sluiting van die Seestraat van Hormoes verwyder meer as 14-miljoen vate Midde-Oosterse olie per dag. Die uitvoerende direkteur, Fatih Birol, sê die oorlog het die grootste voorsieningskrisis in die geskiedenis geskep:
# Sokker: Bafana Bafana se afrigter, Hugo Broos, het ‘n voorlopige groep van 32 aangekondig vir die Wêreldbekertoernooi in Amerika, Kanada en Mexiko. Dit sluit sewe spelers in wat in die buiteland speel, onder andere Lyle Foster and Olwethu Makhanya. Mamelodi Sundowns en Orlando Pirates het elk nege spelers in die groep en Bradley Cross en Olwethu Makhanye is onder die nuwelinge. Broos sal Woensdag die finale groep bekendmaak. Suid-Afrika is in Groep A saam met die mede-gasheer, Mexiko, Suid-Korea en die Tsjeggiese Republiek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-12 teen die euro en 22-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-430-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-526-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 102-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….