Nuus 12:00
BULLETIN 16 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Johannesburg se eiendomsmaatskappy bevestig planne om die Marshalltown-gebou te sloop
# Die DA-leier in Gauteng word deur vermeende ANC-lede in Hammanskraal aangeval
# En Eskom gradeer beurtkrag af na fase twee
# Die Stad Johannesburg se eiendomsmaatskappy, Johannesburg Property Company, het planne bevestig om die gebou in Marshalltown te sloop waar 77 mense in ‘n brand gesterf het. Die bestuurshoof, Helen Botes, sê die gebou, wat in 2019 gekaap is, word as onveilig beskou. Aktiviste kritiseer die maatskappy vir swak bestuur van geboue in die stad. Botes het aan die kommissie van ondersoek verduidelik dat eienaars wat ‘n skuiling in die gebou bedryf het, in 2019 befondsing verloor en dit daartoe gelei het dat die kontrak nie hernu is nie:
# Gauteng se DA-leier, Solly Msimanga, het ‘n aanval op sy motor deur vermeende ANC-lede in Hammanskraal veroordeel. Msimanga het ook dreigemente teen die DA se verkiesingsveldtog gerapporteer en het ‘n beroep gedoen op die Onafhanklike Verkiesingskommissie om in te gryp. Hy het verder ‘n beroep gedoen op die Gautengse ANC-voorsitter, Panyaza Lesufi, om die situasie aan te spreek en ANC-lede in toom te hou:
# Eskom het beurtkrag afgradeer na fase twee danksy die terugkeer van bykomende opwekkingseenhede, voldoende noodreserwes en ‘n verwagte daling in die vraag na elektrisiteit. Dit sal tot verdere kennisgewing voortduur. Woordvoerder Daphne Mokwena verseker die publiek die kragstelsel word voortdurend gemonitor, en beloof enige beduidende verandering sal onmiddellik oorgedra word.
# Egipte bou ‘n kilometer-wye buffersone met ‘n muur aan sy grens met suidelike Gaza, te midde van toenemende vrese oor Israel se beplande grondoffensief in Rafah, waar meer as die helfte van Gaza se bevolking skuil. Satelliet-beelde wys ‘n beduidende gedeelte van die Egiptiese grondgebied tussen ‘n hoofweg en die Gaza-grens is omgedolwe. Die projek volg terwyl vrese toeneem dat die haglike humanitêre krisis in Gaza sal verdiep. Rafah is die laaste oorblywende toevlugsoord vir hawelose Palestyne.
# Krieket: ‘n Honderdtal deur Kane Williamson en ‘n vyftigtal deur Will Young was die dryfkrag in Nieu-Seeland se sege oor die Proteas in die tweede toets in Hamilton. Die Proteas het eerste gekolf en is in die eerste beurt vir 242 uitgehaal, waarna hulle die Swart Pette vir 211 uitgeboender het vir ‘n skrale voorsprong van 31 lopies. Die besoekers is in die tweede beurt vir 235 uitgehaal, wat aan die tuisspan ‘n teiken van 267 gestel het, wat hulle gehaal het met drie paaltjies plat. Dit was Nieu-Seeland se eerste oorwinning in ‘n toetsreeks oor Suid-Afrika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 51-duisend-847-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-vier-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….