Nuus 11:00
BULLETIN 3 September 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die afdanking van die adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, moet die eerste van vele wees
# Proefnemings met drie moontlike entstowwe teen die Ebola-stam in die DRK begin in November
# En rugby: Die Springbok-haker Johan Grobbelaar bly tot 2030 by die Bulle
# Die DA sê die afdanking van die adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, moet die eerste van vele wees totdat alle korrupte polisie-amptenare ontslaan is. Dit het gevolg nadat hy nie by ‘n tugverhoor opgedaag het nie. Khan is beskuldig van wangedrag en dat hy die polisiediens in ‘n swak lig geplaas het. DA-woordvoerder Lisa Schickerling sê die polisie moet ander senior offisiere wat die wet oortree, aanspreeklik hou:
# Eskom sê hy maak vordering met skoon steenkool, groen waterstof en ander tegnologieë in ‘n poging om bedryfsprestasie, nasionale energiesekerheid en ʼn verantwoordelike energie-oordrag te verseker. Hy het die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, by sy sentrum vir navorsing, toetsing en ontwikkeling in Johannesburg ontvang. Woordvoerder Daphne Mokwena sê die sentrum bou aan die vermoë om in die langtermyn betroubare, bekostigbare en mededingende elektrisiteit te lewer, want vernuwing raak al belangriker terwyl die sektor ontwikkel:
# Adjunkpresident Paul Mashatile se skoonseun, Nceba Nonkwelo, het die 12,6-miljoen-rand wat hy aan die Gautengse Vennootskapfonds skuld, terugbetaal as deel van ‘n skikkingsooreenkoms. ‘n Reeks mediaberigte van News24 het aangevoer Nonkwelo Beleggings het tussen 2013 en 2017 lenings ter waarde sowat 30-miljoen-rand van die fonds ontvang vir die oprigting van studentebehuising in Johannesburg wat nooit voltooi is nie. Hy het ook ‘n huis ter waarde van 37-miljoen vir Mashatile en sy vrou gekoop. Nonkwelo het aan News24 gesê die saak is nou afgehandel.
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê twee nuwe entstowwe teen die Bundibugyo-stam van die Ebola-virus in die Demokratiese Republiek die Kongo word tans in veiligheidsproewe in Brittanje en Kanada getoets. Die amptelike sterftesyfer in die DRK se dodelikste Ebola-uitbreking ooit, is meer as drie-duisend. Die provinsie Ituri bly die middelpunt waar 88-persent van die sterftes was. Die Amerikaans-gebaseerde Moderna-groep is ook besig om ʼn entstof te ontwikkel. Die WGO sê doeltreffendheidstoetse van al drie entstowwe behoort teen Oktober of November in die DRK te begin.
# Rugby: Die Springbok-haker Johan Grobbelaar sal tot 2030 vir die Bulle speel nadat hy reeds in 2017 na Pretoria verhuis het. Hy het meer as 100 wedstryde vir die unie se verskillende spanne gespeel, en tien toetse vir Suid-Afrika sedert sy buiging in 2024. Die Bulle sê in ‘n verklaring die 30-jarige Grobbelaar is ‘n hoeksteen in die voorspeler-pak en die verlenging van sy kontrak versterk hul strategie om wêreldgehalte-talent en kernleierskap te behou. Die unie sê hy verteenwoordig alles waarvoor die Bulle staan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-61-sent teen die euro en 21-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-74-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-428-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 96-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….