Nuus 12:00
BULLETIN 7 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sanco dreig om sy politieke steun aan die ANC te onttrek ná die Gautengse kabinetskommeling
# ‘n Vermiste helikopter met vier mense aan boord is veilig in die Krugerwildtuin gevind
# En sokker: Kaizer Chiefs hou die hoop lewend om vir die CAF-Konfederasiebeker te kwalifiseer
# Die burgerlike organisasie Sanco in Gauteng dreig om sy politieke steun aan die ANC te onttrek na premier Panyaza Lesufi se kabinetskommeling. Gautengse voorsitter Abram Mashishi het aan Newzroom Afrika gesê die skuif is roekeloos en Lesufi moet bedank. Hy beskuldig hom dat hy nie die alliansie se besluite oorweeg nie en sy eie neem, soos met die aanstelling van Nkululeko Dunga van die EFF as LUR vir Finansies:
# ‘n Helikopter met vier mense wat gister in die Krugerwildtuin vermis geraak het, is gevind. Die vlieënier, twee polisie-speurders en ‘n omgewingsmisdaad-ondersoeker was aan boord toe die helikopter gister verdwyn het tydens ʼn ondersoek nadat ʼn karkas gevind is. Polisiewoordvoerder Donald Mdhluli sê hulle het weens swak sigbaarheid in ‘n afgeleë gebied geland en besluit om te stap, maar moes deur digte boses beweeg. Hy sê niemand is beseer nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad stem vandag oor ‘n afgewaterde voorstel om die heropening van die strategies-belangrike Seestraat van Hormoes naby Iran te versoek. Dit volg ná besware teen vorige konsepweergawes vanaf verskeie permanente lede met veto-reg, insluitend Frankryk, Rusland en China. Die jongste konsep moedig lande wat belangstel in die gebruik van kommersiële maritieme roetes in die seestraat aan om verdedigingspogings te koördineer om die veiligheid en sekerheid van seevaart deur hierdie kritieke waterweg te verseker.
# Sokker: Kaizer Chiefs het sy kans versterk om te kwalifiseer vir die 2026/27 CAF-Konfederasiebekertoernooi toe hy Orbit College 3-1 verslaan het in ‘n Premierskapswedstryd in Gqeberha. Mbulelo Wagaba het Orbit laat voorloop en Wandile Duba het sake voor rustyd gelykop gemaak. Siphesihle Ndlovu en Mduduzi Shabalala se doele in die tweede helfte het AmaKhosi se oorwinning verseker. Chiefs is nou derde op die punteleer en het ʼn geleentheid om te kwalifiseer vir Afrika se weergawe van UEFA se Europese Liga.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-83-sent teen die dollar, 19-rand-46-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-763-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-679-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê die dood van ʼn lid van die wêreldberoemde Ladysmith Black Mambazo is ʼn verlies vir Suid-Afrika en die musiekbedryf. Die 77-jarige Albert Mazibuko, wat meer as vyf dekades lank die ikoniese groep se sanger was, is Sondag oorlede. McKenzie se woordvoerder, Zimasa Velaphi, sê Mazibuko was die bewaker van ʼn uitsonderlike Suid-Afrikaanse klank wat internasionaal weerklink en mense verenig het:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….