Nuus 12:00
BULLETIN 9 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# OUTA weier om die N-S-FAS-verslag terug te trek ondanks dreigemente oor regstappe
# Eier- en hoenderpryse bly aansienlik hoër as in vorige maande
# En, die laaste voorblad van die Britse Vogue se uittredende redakteur vier vroue en verskeidenheid
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik sê hy sal nie sy verslag terugtrek oor uitgelekte stemopnames wat die minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovering, Blade Nzimande, en die voorsitter van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Ernest Khosa, by korrupsie betrek nie, in weerwil van dreigemente oor regstappe. Khosa het ‘n terugtrekking geëis, maar OUTA sê dit is sy plig om bewyse by wetstoepassers aan te meld. Die organisasie sê hy is gereed om onder spesifieke voorwaardes met Khosa in gesprek te tree. Stefanie Fick van OUTA sê hulle sal kragtige verdediging aanteken teen enige moontlike regstappe:
# Eier- en hoenderpryse bly aansienlik hoër as in vorige maande weens verskeie faktore. Statistiek SA noem ‘n voortdurende styging in pluimvee- en eierpryse, met vleis-inflasie wat in Desember tot 3,9-persent gestyg het. Die prysaanwyser vir melk, eiers en kaas het oor 12 maande met 14,5-persent gestyg. Eierpryse het met ongeveer 40-persent gestyg vergeleke met ‘n jaar gelede. Uitbrekings van voëlgriep in 2020 en 2023 het tot noemenswaardige tekorte en prysverhogings gelei.
# Die Russiese president, Vladimir Putin, het Amerika en ander Westerse lande beskuldig dat hulle die oorlog in Oekraïne uitrek. Putin het in ‘n onderhoud van twee ure met die omstrede gewese aanbieder van Fox News, Tucker Carlson, in Moskou beklemtoon sy land het die reg om homself te verdedig wanneer sy nasionale veiligheid bedreig word. Hy beweer as Amerika ophou om wapens aan Oekraïne te verskaf, sal die oorlog binne weke verby wees. Dit volg nadat die Amerikaanse senaat gister die buitelandse-hulppakket van 1,8-duisend-miljard-rand aan Oekraïne en Israel goedgekeur het.
# Krieket: Die Stad Kaapstad sê hy is gereed om môre die SA20-eindstryd op Nuweland aan te bied. Die verdedigende kampioen, die Sunrisers Eastern Cape, sal Durban’s Super Giants die stryd aansê. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekuriteit, JP Smith, sê die eindstryd voor ongeveer 17-duisend toeskouers sal die toernooi van 34 wedstryde afsluit, met ondersteuners wat wêreldklas krieket in ses stadions landwyd kon sien:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 20-rand-49-sent teen die euro en 23-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 46-duisend-441-dollar-4-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-32-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-66-sent per vat.
# En laastens, mense soos Oprah Winfrey, Victoria Beckham, Cindy Crawford, Naomi Campbell en Serena Williams is onder 40 vroue wat verskyn op die Britse Vogue se jongste voorblad. Die voorblad is ter viering van die tydskrif se uittredende redakteur, Edward Enninful. Hy het geskiedenis gemaak as die eerste man en eerste swart persoon om die eeu-oue glanspublikasie te lei. Enninful sê hy het die 40 vroue gekies omdat hulle invloed verder gestrek het as net mode en kultuur, en hulle die samelewing in die 2020’s help verander het, deur ‘n klein tot groot indruk te maak wat deurgaans positief was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….