Nuus 12:00
BULLETIN 8 Februarie 12 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Malema en nóg vyf EFF-lede belet om vanaand se Staatsrede by te woon
# Die Zimbabwiese regering beplan om doodstraf af te skaf
# En rugby: Die Onder-20 Wêreldkampioenskap word weer vanjaar in die Wes-Kaap aangebied
# Die EFF-leier, Julius Malema en die party se topleierskap het nog ‘n terugslag beleef toe die Wes-Kaapse Hooggeregshof hul aansoek teen hul skorsing vir die bywoning van die Staatsrede verwerp het. Malema, die party se adjunkpresident, Floyd Shivambu, die sekretaris-generaal Marshall Dlamini, senior lede Vuyani Pambo en Mbuyiseni Ndlozi, en die partywoordvoerder Sinawo Tambo sal nie daar wees wanneer president Cyril Ramaphosa die nasie toespreek nie. Die EFF-leiers is skuldig bevind aan minagting van die Parlement nadat hulle tydens verlede jaar se Staatsrede die verhoog bestorm het.
Die burgerregte-organisasie, #NotInMyName, doen intussen ‘n beroep op Ramaphosa om politiek tersyde te stel en ʼn eerlike weergawe van die stand van sake in die land te gee. Die president lewer vanaand sy staatsrede in Kaapstad. Die leier van die beweging, Siyabulela Jentile, sê Ramaphosa moet belangrike kwessies soos die nasionale skuld, die hoë werkloosheidsyfer en armoede aanspreek:
# Die Zimbabwiese regering het na sy eerste kabinetsvergadering van die jaar sy voorneme verklaar om die doodstraf af te skaf. Twee-en-sestig gevangenes wag tans op die doodstraf, wat ingevolge wetgewing toegelaat word vir moord met verswarende omstandighede, beperk tot mans tussen 21- en 70-jaar. Die voorgestelde wet wil die doodstraf vervang met swaar vonnisse vir moordenaars terwyl dit steeds ‘n afskrikmiddel is. Zimbabwe het sedert 1980 79 mense tereggestel, die laaste in 2005. Die Parlement sal binnekort oor die wetgewing stem.
# Rugby: Die onder 20-Wêreldrugby-kampioenskap word vanjaar weer in Junie en Julie in die Wes-Kaap aangebied. Die Junior Springbokke wat verlede jaar die brons medalje verower het, sal weer die toeskouers tuis wil beïndruk. Suid-Afrika is in Groep C ingedeel saam met Engeland, Argentinië en Fidji. Die uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê hulle is vasberade om op verlede jaar se vertoning te verbeter en ‘n onvergeetlike wêreldklas-toernooi aan te bied, wat spelers, amptenare en rugby-ondersteuners terdeë sal geniet.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-97-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-633-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-30-dollar-1-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 79-dollar-50-sent per vat.
# En ten slotte: Die DA in Gauteng vra dat ondersoek ingestel word na die vermiste ketting van die Sedibeng-munisipaliteit se burgemeester, Lerato Maloka. Volgens ʼn beëdigde verklaring wat die party onder oë gehad het, het die ketting met ʼn waarde van 465-duisend-rand, na die distriksrede in Junie verlede jaar geheimsinnig verdwyn. Kingsol Chabalala van die DA sê dis vreemd dat ʼn diefstalsaak eers in November aanhangig gemaak is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….