Nuus 11:00
BULLETIN 26 Augustus 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Fikile Mbalula sê die ANC sal kwytskelding oorweeg vir wyksraadslid-kandidate wat nie matriek het nie
# Minstens 15 pasgebore babas sterf in ‘n brand in ‘n Pakistanse hospitaal
# En rugby: Anton Segner is die jongste All Black-speler wat weens ‘n besering huis toe gaan
# Die ANC se sekretaris-generaal, Fikile Mbalula, sê die party se wyksraadslid-kandidate wat nie matriek het nie, sal voor die plaaslike regeringsverkiesing in November om kwytskelding moet aansoek doen. Dit volg nadat sommige provinsiale sekretarisse kwytskelding gevra het vir voornemende raadslede wat nie matriek het nie. Die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee werk tans aan sy kandidatelys voor dit volgende maand bekendgemaak word. Mbalula sê die vereistes vir burgemeesterskandidate is egter ononderhandelbaar:
# ActionSA verwerp die bewering van die Polisie- en Gevangenisse-vakbond POPCRU dat sy aansoek om ‘n hersiening van die dissiplinêre uitkomste rondom die Presidensiële Beskermingsdiens-beamptes, Wally Rhoode en Hennie Rekhoto, op politieke inmenging neerkom. Die party het ‘n hofaansoek ingedien waarin die Suid-Afrikaanse Polisiediens daarvan beskuldig word dat die twee beskerm is vir hul rol in die Phala Phala-toesmeerdery. Lerato Ngobeni van ActionSA sê hulle is nie tevrede dat die tugproses bo verdenking was nie:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement ondersoek bewerings van omkopery en voorkeurbehandeling. Amptenare word na bewering deur sommige pasiënte omgekoop om toue te omseil wanneer hulle afsprake maak, om toegang tot pasiëntlêers te kry en medikasie af te haal by apteke in openbare gesondheidsgeriewe. Woordvoerder Steve Mabona sê die aanmelding van sulke voorvalle sal die departement help om pasiënte te beskerm, aanspreeklikheid te versterk en te verseker dat openbare gesondheidsorgdienste regverdig en sonder diskriminasie verskaf word:
Nuus uit die buiteland:
# Minstens 15 babas is vanoggend dood in ‘n brand in die Pakistanse Instituut vir Mediese Wetenskappe, wat die grootste hospitaal in die Pakistanse hoofstad, Islamabad, is. Volgens berigte het die brand ontstaan toe ʼn lugversorger se kompressor in die kinderafdeling ontplof het. Reddingspanne kon een baba red. Owerhede sê ʼn ondersoekkomitee onder leiding van die bykomende adjunkkommissaris-generaal sal die voorval ondersoek, onder meer of die afdeling se ontruimings- en brandveiligheids-prosedures voldoende was.
# Rugby: Die All Black-losvoorspeler Anton Segner is beseer en gaan die res van die Rugby’s Greatest Rivalry-toer deur Suid-Afrika misloop. Hy is laat onttrek aan die wedstrydgroep vir die eerste toets op Ellispark, nadat hy oor ‘n geswolle enkel gekla het. Afrigter Dave Rennie sê Segner het ‘n geringe operasie ondergaan en gaan huis toe om daar verder te herstel. Geen plaasvervanger sal opgeroep word nie. Daar is nou reeds vier beseerde All Blacks terug in Nieu-Seeland terwyl nog twee van harsingskudding herstel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-57-sent teen die euro en 21-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 79-duisend-34-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-638-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-92-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….