Nuus 12:00
BULLETIN 16 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Weermaghelikopters is ontplooi te midde van oorstromings in Limpopo
# TLU SA waarsku boere kan verliese ly te midde van die bek- en klouseer-uitbreking
# En sokker: Banyana Banyana se teenstanders in die Afrikabekertoernooi is bekendgemaak
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het helikopters ontplooi om mense te help ontruim wat deur erge oorstromings in Limpopo gestrand is. ‘n Woordvoerder, Selinah Rawlins, sê lede van Eskader 17 en 19 het op ʼn noodoproep gereageer en gesinne naby Giyani en Phalaborwa gered. Slagoffers is van huise se dakke en uit bome langs die Olifantsrivier gered, en beseerde inwoners is na die Maphutha-hospitaal vervoer. Rawlins sê reddingsoperasies het oornag voortgeduur.
# Die landbouliggaam TLU SA waarsku dat bek-en-klouseer in ‘n nasionale landbou- en verbruikerskrisis ontaard het. Bennie van Zyl van die liggaam sê swak staatsvermoëns, vertraagde toegang tot entstowwe en oorregulering het die siekte toegelaat om onbeheersd te versprei. Hy vra dat dit tot ‘n nasionale ramp verklaar moet word en die privaat sektor betrek word. Van Zyl sê boere loop gevaar om alles te verloor en voedselsekerheid word ernstig bedreig:
# ActionSA se burgemeesterskandidaat vir Ekurhuleni in Gauteng, Xolani Khumalo, sal homself Maandag vrywillig aan die polisie oorgee. Die party se voorsitter, Michael Beaumont, sê dit volg op uitgelekte inligting wat dui op ‘n voorneme om hom aan te keer vir aanranding. Dit het betrekking op ‘n voorval verlede jaar waarby ‘n selfverklaarde dwelmhandelaar betrokke was. Beaumont sê Khumalo het pro-aktief opgetree en ‘n vergadering met die polisie gereël:
# Amerika se ambassade in Suid-Afrika het Iran se teenwoordigheid by die BRICS-vlootoefening by Simonstad in Kaapstad veroordeel en sê dit ondermyn maritieme veiligheid en streeksbestendigheid. Vaartuie van Iran, China, Rusland en die Verenigde Arabiese Emirate het verlede week na Suid-Afrika gevaar vir die oefening. Die ambassade sê Suid-Afrika kan nie onverbondenheid voorhou terwyl hy Iranse militêre magte in Suid-Afrikaanse water toelaat of na Teheran reis om sy samehorigheid te betuig nie. Hy sê Suid-Afrika kies kant vir ‘n regime wat by terrorisme betrokke is en sy mense onderdruk.
# Sokker: 2022 se kampioen, Suid-Afrika, is in Groep B saam met die Ivoorkus, Burkina Faso en Tanzanië vir die Afrikabekertoernooi vir vroue wat in Maart en April in Marokko plaasvind. Banyana Banyana het verlede jaar in die halfeindronde uitgeval. Die verdedigende kampioen, Nigerië, is in Groep C saam met Zambië, Egipte en die nuweling, Malawi. Marokko speel in Groep A teen Algerië, Senegal en Kenia. Die vier spanne in die voorlaaste ronde kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-700-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-605-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….