Nuus 11:00
BULLETIN 16 Januarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Amerika sê Suid-Afrika kan nie vir die wêreld preek oor geregtigheid terwyl hy vriende is met Iran nie
# Tax Justice SA is bekommerd oor die sluiting van BATSA se enigste vervaardigingsaanleg in Suid-Afrika
# En sokker: Banyana Banyana se groepteenstanders in die Afrikabekertoernooi word bekendgemaak
# Amerika se ambassade in Suid-Afrika het Iran se teenwoordigheid by die BRICS-vlootoefening by Simonstad in Kaapstad veroordeel en sê dit ondermyn maritieme veiligheid en streeksbestendigheid. Vaartuie van Iran, China, Rusland en die Verenigde Arabiese Emirate het verlede week na Suid-Afrika gevaar vir die oefening. Die ambassade sê Suid-Afrika kan nie onverbondenheid voorhou terwyl hy Iranse militêre magte in Suid-Afrikaanse water toelaat of na Teheran reis om sy samehorigheid te betuig nie. Hy sê Suid-Afrika kies kant vir ‘n regime wat by terrorisme betrokke is en sy mense onderdruk.
# Tax Justice SA sê die sluiting van British American Tobacco South Africa se vervaardigingsaanleg is verdoemende bewys dat owerhede se versuim om onwettige sigarethandel te stuit, werksgeleenthede verwoes, staatsinkomste dreineer en die oppergesag van die reg ondermyn. Die maatskappy gaan sy aanleg in Heidelberg, Gauteng, sluit, wat 230 werksverliese kan beteken. Tax Justice SA se stigter, Yusuf Abramjee, sê BATSA se besluit is die voorspelbare uitkoms wanneer georganiseerde misdaadnetwerke openlik toegelaat word:
# ActionSA het sy Wetsontwerp op Gesneuwelde Fluitjieblasers bekendgestel, die eerste wetgewing in sy teenkorrupsie-hervormingspakket. Die party se leier, Herman Mashaba, sê die wetsontwerp het ten doel om korrupsie teen te werk, veral in openbare verkryging, en diegene te beskerm wat dit blootlê. Hy beklemtoon sterker beskerming vir verklikkers, strenger strawwe vir intimidasie en finansiële aansporings vir openbaarmakings. Mashaba sê voorsiening word ook gemaak vir privaat vervolging waar die Nasionale Vervolgingsgesag versuim om op te tree.
# Die ANC in Groter Johannesburg sê Al Jamah se mosie van wantroue teen burgemeester Dada Morero sal misluk. Die mosie wat raadslid Kabelo Gwamanda voorgestel en die UDM gesekondeer het, voer aan Morero bied nie beslissende leierskap te midde van die voortslepende gebrek aan dienslewering reg oor die metro nie. Die ANC se streeksekretaris, Sasabona Manganye, het aan die SABC gesê hulle het volle vertroue in Morero:
# Sokker: 2022 se kampioen, Suid-Afrika, is in Groep B saam met die Ivoorkus, Burkina Faso en Tanzanië vir die Afrikabekertoernooi vir vroue wat in Maart en April in Marokko plaasvind. Banyana Banyana het verlede jaar in die halfeindronde uitgeval. Die verdedigende kampioen, Nigerië, is in Groep C saam met Zambië, Egipte en die nuweling, Malawi. Marokko speel in Groep A teen Algerië, Senegal en Kenia. Die vier spanne in die voorlaaste ronde kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-694-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-608-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 63-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….