Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 5 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oscar Pistorius is by die huis
# NotInMyName verwelkom Oscar Pistorius se vrylating op parool
# En, Krieket: Alle oë is op Nuweland vir ‘n besluit oor die ondersoek van die kolfblad
# Oscar Pistorius is vanoggend op parool vrygelaat en is by die huis. Reeva Steenkamp se ma, June, sê egter geen hoeveelheid tronkstraf wat Pistorius uitdien kan ooit haar vermoorde dogter terugbring nie. Sy het in ’n verklaring haar aanvaarding herhaal van die veroordeelde moordenaar se vrylating ná agt jaar agter tralies. Pistorius het Reeva op Valentynsdag in 2013 noodlottig gewond toe hy haar deur ‘n toe toiletdeur geskiet het. Hy is uiteindelik tot 13 jaar en vyf maande agter tralies gevonnis. Steenkamp sê die Paroolraad se voorwaardes stuur ‘n duidelike boodskap uit dat geslagsgeweld baie ernstig opgeneem word.
NotInMyName International het intussen die Departement van Korrektiewe Dienste se besluit verwelkom om Pistorius van vandag af op parool te plaas. Hy is in 2014 aanvanklik skuldig bevind aan strafbare manslag, maar na talle appèlle is die skuldigbevinding in 2017 na moord verander. NotInMyName se sekretaris-generaal, Themba Masango, sê hy is geklassifiseer as ‘n eerste oortreder met ʼn positiewe ondersteuningstelsel, daarom is Pistorius se parool in ooreenstemming met Artikel 73 van die Wet op Korrektiewe Dienste:
# ‘n Klimaatkenner maan Suid-Afrika staan voor ‘n jaar van uiterste weervoorvalle, met meer rampspoedige oorstromings wat waarskynlik is. Die klimaatnavorser Nomle Ngwenya verwys na die uitgebreide vloede van die afgelope twee jaar en lê klem op die dringende behoefte dat die regering moet belê in sterk infrastruktuur wat die onvermydelike natuurrampe sal kan weerstaan. Ngwenya het aan eNCA gesê pro-aktiewe maatreëls is nodig om die tweeledige uitdagings van verhoogde vloedrisiko en voortslepende droogtetoestande die hoof te bied om lewens en die ekonomie te beskerm:
# Krieket: Krieket Suid-Afrika wag vir die Internasionale Krieketraad se verslag oor die oppervlak van die kolfblad op Nuweland waar ‘n toets in slegs 107 boulbeurte afgehandel is. Die tweede toets tussen Suid-Afrika en Indië was die kortste wedstryd in die geskiedenis van die spel met slegs 642 balle wat geboul is – 14 minder as die vorige rekord van 656 balle in die toets tussen Suid-Afrika en Australië in Melbourne tydens die toer van 1931/32. Nuweland was ook in 1993 in die nuus met die eendag-debakel tydens ‘n Internasionale Reeks weens sy kolfblad wat die bal uitermatig laat bons en draai het. Dit het daartoe gelei dat die Wes-Indiese Eilande Pakistan in slegs 19 boulbeurte vir 43 uitgehaal het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 43-duisend-858-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-42-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-98-sent per vat.
# Ten slotte: Amptenare sê ‘n selfdood-voorkomingsnet by die Golden Gate-brug in San Francisco is uiteindelik voltooi. Sedert sy opening in 1937 het nagenoeg tweeduisend mense van die brug af na hul dood gespring. Families wat geliefdes weens selfdood by die brug verloor het, vra al dekades lank vir ‘n oplossing. Die selfdood-net is rondom ongeveer 95 persent van die 2,7 kilometer-brug geïnstalleer. Die net van vlekvrye staal is in 2014 goedgekeur, maar die installasiewerk het eers vier jaar later begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….