Nuus 11:00
BULLETIN 28 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ahmed Kathrada-stigting bevraagteken immigrasiemites
# Die dodetal in die aardbewings in Venezuela styg steeds
# En sokker: Broos is verbaas oor Bafana-Bafana se lae posisie op die FIFA-ranglys
# Die Ahmed Kathrada-stigting sê Suid-Afrika se immigrasiedebat moet gelei word deur feite, nie waninligting nie. Tydens ‘n aanlyn saamtrek teen Dinsdag se afsluiting, het die stigting gesê migrante maak ongeveer vier-persent van die land se bevolking uit en is nie die belangrikste oorsaak van die druk op openbare dienste nie. Die stigting se teen-rassismebestuurder, Rethabile Ratsomo, sê werkloosheid, misdaad en swak dienslewering is die werklike bekommernisse. Blywende oplossings vereis werkbare regeringsoptrede:
# Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, sê hulle oorlewing oor byna drie dekades is die gevolg van volharding met waardes, leierskap en betrokkenheid by gemeenskappe eerder as toegang tot hulpbronne. Holomisa het afgevaardigdes by die Sesde Nasionale Kongres in KuGompo-stad in die Oos-Kaap, toegespreek en gesê die party het lank goeie bestuur, teen-korrupsiepogings en verantwoordbaarheid in openbare ampte voorgestaan. Hy het die versterking van leierskap voor die plaaslikeregeringsverkiesings beklemtoon:
# Die Johannesburgse burgerlike groep Joburg Crisis Alliance sê die stad is in ‘n staat van regeringsmislukking en vra ingryping deur die nasionale regering. Die groep verwys na berigte dat Nasionale Tesourie dalk befondsing mag terughou nadat die stad ‘n onbefondsde begroting aanvaar het. Die groep lig ook bewerings uit dat die Johannesburgse Padagentskap dele van sy vloot gehok het weens ‘n gebrek aan brandstof. Die alliansie sê inwoners ly onder die gevolge van voortgesette finansiële wanbestuur en administratiewe ineenstorting, en vra dringende optrede.
# Die dodetal in die verwoestende aardbewings wat Venezuela getref het, bly styg namate reddingswerkers meer liggame onder die puin van ineengestorte geboue vind. Tot dusver het amptenare ten minste een-duisend-450 sterftes bevestig na die aardbewings van 7,2 en 7,5, die sterkste wat die land die eeu aangeteken het. Die VN skat dat ongeveer 50-duisend mense steeds vermis word. Die kusstaat La Guaira, wat aan die hoofstad Caracas grens, is die hardste getref. Spanne van Mexiko, Spanje, die VSA en Brittanje het opgedaag om by die reddingspoging aan te sluit.
# En ten slotte sokkernuus:
Die Bafana Bafana-afrigter, Hugo Broos, sê hy kan nie verstaan hoekom Suid-Afrika so laag op die FIFA-wêreldranglys bly ten spyte van die span se onlangse vertonings nie. Bafana is 60ste in die wêreld en negende in Afrika. Broos het aan Sporty TV gesê hy glo Bafana het deurgaans sterk resultate gelewer en verdien groter erkenning op die wêreldranglys. Hy bevraagteken hoe verskeie lande steeds bo Suid-Afrika geplaas word:
En die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, het intussen, ná hul geskiedkundige 1-0-oorwinning oor Suid-Korea, vir Bafana Bafana ‘n bonus van vyf-miljoen-rand beloof vir elke FIFA Wêreldbeker-uitklopoorwinning. Die aansporing het begin met die Suid-Korea-sege, wat beteken ‘n oorwinning teen Kanada sal die span se bonus tot tien-miljoen-rand opstoot. Bafana Bafana pak vanaand om nege-uur die mede-gasheer, Kanada, met die doel om die laaste-16 van die toernooi te haal.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….