Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê die sinchronisering van Kusile-kragstasie se Eenheid 5 sal ‘n bykomende 800 megawatt lewer
# Die Shelly Point Hotel en Spa in St Helenabaai brand
# En, sokker: Mohamed Salah teken sy 150ste Premierliga-doel aan
# Eskom sê die sinchronisering van Kusile-kragstasie se Eenheid-vyf, wat nie voorheen deel van Eskom se netwerkkapasiteit was nie, sal ‘n bykomende 800 megawatt tot die land se kragstelsel bydra. Die eenheid is Saterdagaand vir die eerste keer met die nasionale netwerk gesinchroniseer. Die Eskom-woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dié eenheid sal oor die volgende ses maande tydens die toets- en optimaliseringsfase af en toe elektrisiteit verskaf voordat dit in volle bedryf geplaas word en die kapasiteit amptelik by die bestaande Eskom-kragverskaffingsnetwerk gevoeg word:
# Die Weskus se mediese reddingsdiens is tans op die toneel waar die Shelley Point Hotel en Spa in St Helenabaai aan die brand is. Die brand het blykbaar rondom seweuur vanoggend in een van die restaurante ontstaan en vinnig deur die grasdakgebou versprei. Die brand woed buite beheer en het ‘n groot deel van die gebou vernietig. Saldanhabaai se brandbestryders werk onverpoosd om die vlamme te blus wat deur ʼn sterk wind aangedryf word. Inwoners is aangeraai om die gebied te vermy en die pad oop te hou vir reddingsvoertuie.
# Minstens 30 mense is dood in die kragtige aardbewings wat Sentraal-Japan op Nuwejaarsdag getref het, en duisende mense moes die nag in ontruimingsentrums deurbring. Die aardbewings het Ishikawa en nabygeleë distrikte op die Japanse middaguur getref, met een wat volgens die land se weeragentskap ‘n voorlopige sterkte van 7,6 gehad het. ‘n Ernstige tsoenami-waarskuwing is vir die gebied uitgereik, maar later afgradeer na minder ernstig. Kenners het gewaarsku skuddings en naskokke kan nog etlike dae lank voorkom. Die regering het mense in die gebied gewaarsku om van die kus af weg te bly.
# Sokker: Mohamed Salah het twee doele aangeteken in Liverpool se oorwinning teen Newcastle United, waarin sy span hulle teenstanders met vier-twee geklop het. Liverpool het nou ‘n voorsprong van drie punte bo-aan die Engelse Premierliga, voor Aston Villa, wat tweede is. Die verdedigende kampioen, Manchester City, lê nog twee punte terug, saam met Arsenal. Salah se eerste doel in die wedstryd, was sy 150ste Premierliga-doel vir die Reds en die bestuurder, Jurgen Klopp, het sy vertoning geprys:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 20-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 45-duisend-808-dollar-75-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-73-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 78-dollar-14-sent per vat.
# Ten slotte: In die eerste paar uur van 2024 is 411 babas by openbare gesondheidsinstellings in Suid-Afrika gebore. Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sê 211 meisies en 200 seuns is gebore, met Gauteng wat die hoogste getal opgelewer het, naamlik 112. In KZN is 84 babas gebore, met die jongste ma ‘n 14-jarige meisie. Noordwes het 33 geboortes aangeteken terwyl 41 babas in Limpopo gebore is. In die Vrystaat is 17 babas gebore, die Oos-Kaap het 52 geboortes aangeteken en die Noord-Kaap 15. In die Wes-Kaap is 29 babas gebore, terwyl Mpumalanga 28 geboortes aangeteken het. Die minister het gesondheidswerkers en ondersteuningspersoneel bedank wat oor die feestyd gewerk het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….