Nuus 11:00
BULLETIN 26 June 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit sê Suid-Afrika se verhouding met Iran is nie in die land se nasionale belang nie
# Die Internasionale Maritieme Organisasie skort ontruiming in die Seestraat van Hormoes op
# En rugby: Rassie is tevrede met die Bokke se voorbereiding voor die Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Engeland
# Solidariteit sê die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, is verkeerd dat Suid-Afrika se verhouding met Iran in Suid-Afrika se nasionale belang is. Hy het die beleid van onverbondenheid verdedig na kritiek van die Amerikaanse ambassadeur, Leo Brent Bozell, oor adjunkpresident Paul Mashatile se besoek aan China en ‘n Iranse ampsdraer se besoek aan Pretoria. Woordvoerder Jaco Kleynhans sê Suid-Afrika se onafhanklike buitelandse beleid moenie ekonomiese skade veroorsaak nie:
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het nuwe nasionale maatreëls vir die beheer van bek-en-klouseer goedgekeur. Dis daarop gerig om veeboere gedurende uitbrekings ‘n duideliker pad na herstel te bied, terwyl dit ook Suid-Afrika se landbouhandel en biosekerheid beskerm. Die departement se woordvoerder, Joylene van Wyk, sê die belangrikste van die nuwe maatreëls is die risikogebaseerde roetes wat sekere handelsbedrywighede in tye van kwarantyn sal toelaat:
# ActionSA sê die Stad Kaapstad se verlies aan sy skoon oudit-status wys hoe burgemeester Geordin Hill-Lewis die metro agteruit lei. Ouditeur-generaal Tsakani Maluleke het verklaar die metro het agteruitgegaan van sy vorige skoon oudit-status weens die nie-nakoming van verskaffingskettingbestuur- en verkrygingsooreenkomste. Dit het gelei het tot ‘n ongekwalifiseerde ouditmening met bevindings. Dereleen James van ActionSA sê Kaapstad verdien ‘n regering wat uitslae lewer, openbare geld verantwoordelik bestee en verantwoordbaar bly aan alle inwoners:
Nuus uit die buiteland:
# Die Internasionale Maritieme Organisasie het sy pogings opgeskort om skepe en meer as elf-duisend seevaarders te ontruim wat in die Seestraat van Hormoes gestrand is. Dit volg nadat ‘n vragskip wat deur die roete beweeg het, suidoos van die Omanse hawe Dahit aangeval is. Die vaartuig was nie deel van die organisasie se ontruimingsplan nie. Die hoof van die organisasie, Arsenio Dominguez, sê die tydelike opskorting is om verder te bevestig dat al die nodige veiligheidsmaatreëls getref is vir skepe op die ontruimingslys en in die Midde-Ooste.
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die hele span stem saam oor die verwagtings en standaarde vir die Nasieskampioenskap wat voorlê. Suid-Afrika speel volgende Saterdag op Ellispark in Johannesburg teen Engeland in die reeks se openingswedstryd. Hulle volgende kragmeting is op 11 Julie in Pretoria teen Skotland en ʼn week later in Durban teen Wallis. Erasmus is tevrede dat die nodige boustene gelê is. Hy is ook bly oor die spelers se waardevolle wedstryd-tyd teen die Barbarians en Zimbabwe.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-353-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-27-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 73-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….