Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 13 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Phaahla kondig nog ‘n A-pokke-geval aan en een sterfgeval
# Alan Winde word ingehuldig as die Wes-Kaapse premier
# En, rugby: Cheslin Kolbe keer terug na die Bok-oefenkamp vir ‘n rehabilitasieprogram
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, het bekend gemaak daar was nog ‘n laboratorium-bevestigde geval van A-pokke en ‘n tweede sterfte wat met die siekte verbind word. Die jongste geval is ‘n 38-jarige man wat in ‘n hospitaal in uMgungundlovu, Kwa-Zulu-Natal, opgeneem is en gister positief getoets het vir A-pokke. Hy is dieselfde dag dood. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê dit bring die getal positiewe gevalle in die land binne vyf weke op ses te staan, met twee sterfgevalle:
# Die Wes-Kaap se waarnemende regter-president, Patricia Goliath, sal premier Alan Winde vandag vir sy tweede termyn in die amp inhuldig. Die DA het 55-persent van die stemme en 24 setels in die wetgewer gekry. Winde sal ook sy nuwe kabinet aanstel en sommige LUR’e in belangrike portefeuljes sal na verwagting vir die volgende vyf jaar weer in die posisies dien. Hy sê sy nuwe kabinet is sorgvuldig gekies om op die vorige termyn se suksesse voort te bou en belangrike kwessies aan te pak.
# Die Vatikaan weier om kommentaar te lewer op nuusberigte dat pous Franciskus ‘n aanstootlike beskrywing van gay mans herhaal het nadat die hoofkantoor van die Rooms-Katolieke Kerk verlede maand ‘n verskoning daaroor uitgereik het. Die Italiaanse nuusagentskap ANSA haal onbekende bronne aan wat sê die pous het die woord op ‘n vergadering gebruik waar hy voorgestel het gay mans behoort in die kerk verwelkom te word, maar nie in kweekskole nie. Die kerk se amptelike mondstuk, Vatican News, het nie die bespreking van homoseksualiteit genoem in sy berig oor die vergadering nie.
# Rugby: Die vleuel Cheslin Kolbe is terug by die Springbok-oefenkamp in Pretoria en is moontlik beskikbaar om gekies te word vir volgende maand se toetse teen Ierland. Die dubbele Wêreldbeker-wenner het sy knie beseer tydens die Japanese klubseisoen. Sy rehabilitasie sal nou onder die wakende oog van die Bokke se mediese personeel plaasvind. Die wedstrydgroep word Dinsdag aangekondig vir die eerste toets van die seisoen, volgende naweek teen Wallis op Twickenham.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-89-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-627-dollar-61-sent. Die prys van goud is twee-duisend-315-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-41-sent per vat.
# En ten slotte: Wrakjagters het op die skip afgekom waarin die beroemde pool-ontdekker Ernest Shackleton sy laaste vaart onderneem het. Die “Quest” is opgespoor op die seebodem aan die kus van Newfoundland, Kanada. Shackleton is op 5 Januarie 1922 dood nadat hy ‘n hartaanval aan boord gehad. Hoewel Quest diens gedoen het tot dit in 1962 gesink het, het die skip groot geskiedkundige waarde as gevolg van die vroeëre bande met Shackleton. Die Brits-Ierse ontdekker is beroemd vir sy avonture op Antarktika in ‘n tyd toe baie min mense die yswildernis besoek het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….