Nuus 11:00
BULLETIN 13 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Jabulani Khumalo nader die Hooggeregshof in nog ‘n poging om MK in die Parlement te verteenwoordig
# ‘n Vakbond kritiseer Korrektiewe Dienste se hantering van bewerings van mishandeling
# En gholf: Tiger Woods is vol vertroue dat hy die Amerikaanse Ope kan wen
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof hoor vandag ‘n dringende aansoek aan van die geskorste stigter van die MK-party, Jabulani Khumalo, om teruggeplaas te word op die party se parlementêre lys. Die Nasionale Vergadering se eerste sitting is môre. Die Verkiesingshof het gister sy aansoek verwerp om weer as leier van die party aangestel te word. Die Parlement het Khumalo in kennis gestel dat hy van MK se kandidatelys verwyder is omdat hy volgens die party nie langer ʼn lid is nie.
# Die DA in eThekwini het burgemeester Mxolisi Kaunda se verwydering verwelkom en sê inwoners het onder sy onbevoegdheid gely. Die ANC het Kaunda na die Nasionale Raad van Provinsies herontplooi. Thabani Mthethwa van die DA sê Kaunda is in ontkenning oor die ware toestand van die munisipaliteit wat deurloop onder wateronderbrekings, elektrisiteitsprobleme, vervalle infrastruktuur en ‘n algehele gebrek aan dienslewering. Hy sê eThekwini word ook deur skuld verswelg:
# Die Vakbond vir Korrektiewe Dienstewerkers veroordeel die departement omdat hy homself distansieer van aantygings van bewerings van aanranding van gevangenes. Die vakbond kritiseer die departement oor die verwaarlosing van sy verantwoordelikheid om geregtigheid en mense se waardigheid te steun, en vra regverdige behandeling en rehabilitasie vir aangehoudenes. Woordvoerder Alude Jizana eis ‘n deeglike ondersoek na die bewerings en behoorlike tugstappe teen beamptes wat skuldig bevind word:
# Die Argentynse president, Javier Milei, het sekerheidsmagte bedank vir die onderdrukking van wat hy beskryf as terroriste wat probeer het om ‘n staatsgreep uit te voer. Die polisie in die hoofstad, Buenos Aires, het betogers buite die Kongres met traangas en waterkanonne verdryf ná wetgewers ‘n stel streng besparingsmaatreëls goedgekeur het. Vyftien mense is in hegtenis geneem. Milei, wat in Desember aan bewind gekom het, het sedertdien die kabinet halveer, 50-duisend staatsdiensposte afgeskaf, nuwe openbare werke-kontrakte opgeskort en brandstof- en vervoersubsidies gesny.
# Gholf: Die driemalige kampioen, Tiger Woods, sê hy is vol vertroue dat hy die Amerikaanse Ope kan wen. Die Amerikaner speel die eerste keer sedert hy verlede maand nie die paal gehaal het op die PGA-kampioenskap nie. Hy het in onlangse jare sy speelskedule ingekort weens beserings. Woods meen hy kan steeds ‘n aanspraakmaker wees in majors, maar sê om net die naweek nog te kan speel en al vier rondes te voltooi, sal ‘n groot stap in die regte rigting wees:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-50-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-650-dollar-25-sent. Die prys van goud is twee-duisend-315-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….