Nuus 12:00
BULLETIN 6 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Action Society waarsku teen die heraanstelling van minister Cele in die Kabinet
# Die Oos-Kaapse premier vra samewerking om vloed-slagoffers te help
# En, tennis: Die Franse Ope-manseindstryd is sonder een van die Groot Drie vir die eerste keer sedert 2004
# Action Society het die ANC versoek om die minister van Polisie, Bheki Cele, van die Kabinet uit te sluit ná die party se aansienlike verlies van 71 setels in die verkiesing. Die organisasie noem sy swak prestasie en betrokkenheid by vorige korrupsieskandale as motivering. Juanita du Preez van Action Society voer aan Cele het versuim om die publiek en polisiebeamptes te beskerm, en die publiek vertrou hom nie om die Suid-Afrikaanse Polisiediens te lei nie. Du Preez meen Cele se heraanstelling sal die ANC se verdraagsaamheid teenoor korrupsie bevestig:
# Die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, vra die privaat sektor om met die regering saam te werk om slagoffers van die oorstromings te help. Die provinsie is deur erge oorstromings en gure weer getref wat tot die dood van tien mense gelei het. Meer as drie-duisend mense is dakloos en word by tydelike skuilings gehuisves. Mabuyane sê hulle is vasbeslote om gesinne te help wat hulle huise en besittings verloor het:
# Sakevertroue het in die tweede kwartaal van die jaar verbeter. Rand Merchant Bank en die Buro vir Ekonomiese Navorsing se sakevertroue-aanwyser het voor die verkiesing met vyf punte gestyg tot 35-persent. Dit beteken net meer as ‘n derde van die deelnemers aan die peiling was tevrede met heersende saketoestande. Vertroue het in vier van die vyf subsektore van die aanwyser toegeneem. Isaah Mhlanga van RMB sê aansienlike beleggings en ekonomiese hervorming is nodig vir volgehoue vertroue en om groei aan te wakker.
# Minstens 30 Palestyne, insluitend vyf kinders, is dood in ‘n Israelse lugaanval op ‘n skool van die Verenigde Nasies in die Nuseirat-vlugtelingkamp in sentraal Gaza. Die Israelse Weermag het bevestig hy het ‘n aanval op die skool geloods en sê dit is die tuiste van Hamas-terroriste wat aan die aanval van 7 Oktober op Israel deelgeneem het. Hamas het die aanval as ‘n verskriklike massamoord en ‘n skande vir die mensdom beskryf.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Novak Djokovic, se onttrekking aan die Franse Ope beteken Sondag se manseindstryd sal die eerste keer in 20 jaar sonder een van die Groot Drie plaasvind. Die Serwiër, die 14-malige kampioen, Rafael Nadal van Spanje, en die Switserse meester Roger Federer het die toernooi sedert 2004 oorheers. Djokovic het drie oorwinnings behaal en Federer een. Djokovic het Maandag sy knie beseer, wat die Noorweër Casper Ruud laat deurdring het na die halfeindronde, met die Italianer Jannik Sinner wat volgende week oorneem as wêreld nommer een.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 20-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-932-dollar-9-sent. Die prys van goud is twee-duisend-361-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….