Nuus 12:00
BULLETIN 3 Junie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP stel ‘n taakspan van sewe lede aan vir koalisiegesprekke
# Die regering sê die verkiesing is in die gees van politieke volwassenheid gevoer
# En, rugby: Daar is twyfel oor Marco van Staden se beskikbaarheid vir die Bulle vir die VRK-kwarteindstryd
# Die IVP se nasionale uitvoerende komitee het ‘n taakspan van sewe lede onder leiding van sy adjunkpresident, Mzamo Buthelezi, aangestel om alle koalisie-verwante sake te hanteer. Dit sluit gesprekke met ander partye in. Die IVP is nasionaal die vyfde grootste party met 3,85-persent van die stemme. Dis naas die MK-party ook die tweede grootste in KwaZulu-Natal. Die IVP-leier, Velenkosini Hlabisa, sê hulle aanvaar die verkiesingsuitslag as die demokratiese wil van die mense:
Intussen sê die regering die suksesvolle afhandeling van die algemene verkiesing is ʼn waterskeiding in Suid-Afrika se reis na ʼn insluitende en deelnemende demokrasie. Sowat 16-miljoen landsburgers het hul kruisies getrek, wat neerkom op ʼn stempersentasie van 58,61-persent. Die regering se woordvoerder, Nomonde Mnukwa, sê die verkiesing is gekenmerk deur ʼn mededingende en merkwaardige gees van politieke volwassenheid en verdraagsaamheid:
# Iran se radikale oudpresident, Mahmoud Ahmadinejad, het hom as kandidaat geregistreer vir die presidentsverkiesing. Die Islamitiese republiek stem op 28 Junie om president Ebrahim Raisi te vervang, wat in ‘n helikopterongeluk dood is. Ahmadinejad was president vir twee agtereenvolgende termyne van 2005 tot 2013. Sy presidentskap is gekenmerk deur ‘n stryd met die Weste, veral oor Iran se kernprogram, en sy uitdagende uitsprake oor Israel. Sy benoeming moet goedgekeur word deur die konserwatiewe Raad van Bewakers, bestaande uit 12 juriste wat alle kandidate vir openbare posisies keur.
# Rugby: Twyfel bestaan of die Wêreldbeker-ster Marco van Staden vir die Bulle beskikbaar gaan wees vir Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskaps-kwarteindstryd teen die Italiaanse span Benetton in Pretoria. Hy is beseer tydens Saterdag se sege van 26-14 oor die Haaie in Durban. Van Staden het eers onlangs teruggekeer na die speelveld nadat hy vroeër ’n ligamentbesering opgedoen het. Die Bulle se direkteur van rugby, Jake White, sê hulle het ‘n paar moontlikhede:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-989-dollar-65-sent. Die prys van goud is twee-duisend-326-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 81-dollar-14-sent per vat.
# En, ‘n klein deel van die Britte wat die meeste verdien, is verantwoordelik vir sewe keer meer kweekhuisgas-uitlatings met hulle reise en vervoer as die gemiddelde mens. ‘n Verslag van die links-leunende IPPR-dinkskrum het bevind die een-persent met ‘n gemiddelde salaris van minstens 3.8-miljoen-rand per jaar, is verantwoordelik vir minstens sewe keer meer uitlatings as gemiddelde verdieners en13-keer meer as dié wat die minste verdien. ‘n Debat word gevoer oor of Brittanje ‘n heffing moet instel vir dié wat dikwels vlieg om die koolstof-intensiewe manier van reis te beperk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….