Nuus 12:00
BULLETIN 19 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Politieke ontleder sê Ramaphosa se dae in die Presidensie is moontlik getel
# Die nuwe regstreekse vlugroete tussen Kaapstad en die Gatwick-lughawe in Londen word wyd verwelkom
# En rugby: Jacques Nienaber is terug in Suid-Afrika saam met Leinster
# Die politieke ontleder, Daniel Silke, sê die einde van president Cyril Ramaphosa sy ampstermyn is moontlik in sig, met die ANC wat dalk swak gaan presteer in volgende maand se verkiesing en Ramaphosa se populistiese teenstanders wat sy bloed soek. Silke skryf in ‘n meningstuk in Business Day dat Ramaphosa uiteindelik verwyt sal word as die ANC onder 50-persent steun kry. Hy sê Ramaphosa sal ‘n pragmatiese, sentralistiese ooreenkoms moet aanvaar of met meer radikale bedmaats probeer saamwerk. Dit sluit die EFF in, wat geen geheim daarvan maak dat hulle hom wegwens nie.
# Die Stad Tshwane sê die opgradering van die Wonderboom-wisselaar vir veelsoortige vervoer en die Hector Peterson A Re Yeng-snelbusstasie sal einde volgende maand voltooi wees. Die projek van twee-miljard rand was veronderstel om in September afgehandel te wees. Die metro se woordvoerder, Selby Bokaba, sê dit was ‘n ingewikkelde projek met verskeie fases vir meganiese, siviele en elektriese werk, wat daartoe gelei het dat dit nie betyds voltooi kon word nie.
# Die Kaapstade maatskappy Cape Town Air Acces, en die Noorse redery Norse Atlantic Airways gaan op 28 Oktober ‘n regstreekse roete tussen die Kaapstadse Internasionale Lughawe en die Gatwick-lughawe in Londen instel. Die Noorse lugdiens sal weekliks drie vlugte op die roete aanbied, wat die lugvervoer tussen Kaapstad en Brittanje sal versterk. Die Wes-Kaapse LUR vir Finansies en Ekonomiese Geleenthede, Mireille Wenger, glo die nuwe roete sal suksesvol wees:
# Rugby: Die gewese Springbok-afrigter Jacques Nienaber is saam met Leinster terug in Suid-Afrika vir hulle Verenigde Rugbykampioenskaps-wedstryd teen die Leeus. Die wedstryd vind môre op Ellispark in Johannesburg plaas. Die Ierse reuse is boaan die VRK-punteleer en sal ook aan die Kampioenebeker se halfeindronde deelneem. Leinster se hoofafrigter, Leo Cullen, het Nienaber se invloed geloof:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-670-dollar-80-sent. Die prys van goud is twee-duisend-381-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 87-dollar-15-sent per vat.
# En, laastens: Die Nieu-Seelandse polisie het ‘n ram doodgeskiet nadat hy vermoedelik sy eienaars doodgemaak het. Die polisie het op die liggame van die bejaarde egpaar in die kampie langs hul huis in Waitakere afgekom nadat hul seun bekommerd geraak het. Die dier was steeds daar en het die polisie aangeval, wat besluit het om hom van kant te maak. Die dorp se inwoners is geskok oor die voorval en sê hulle kan nie glo wat gebeur het nie. Lykskouings sal op die slagoffers gedoen word en die owerhede het met ‘n ondersoek begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….