Nuus 11:00
BULLETIN 4 November 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC loop nasionaal voor na gister se verkiesing
# Die polisie ondersoek talle voorvalle wat met die verkiesing verband hou
# En gholf: BC Partners laat vaar glo sy bod om LIV Golf 2.0 te finansier
# Twintig-persent van kiesdistrikte is reeds verklaar na gister se munisipale verkiesing en die ANC loop nasionaal voor met 31,39-persent, die DA op sy hakke met 30,41-persent en die MK-party met 5,57-persent. In Gauteng, insluitend Johannesburg, loop die DA voor met 39,26-persent, terwyl ActionSA voorloop in Tshwane. In KwaZulu-Natal is MK van Jacob Zuma voor met 32,68-persent, gevolg deur die ANC en die IVP. Die DA loop voor in die Wes-Kaap, terwyl ActionSA Laingsburg in die Karoo van die ANC afgerokkel het.
Die Verkiesingskommissie sal die finale uitslae Sondag aankondig.
Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê intussen hulle ondersoek sowat 14 sake wat met die verkiesing verband hou. Die polisie hanteer ook ernstige misdade, insluitend moorde wat in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap aangemeld is. Masemola het in die Verkiesingskommissie se uitslagsentrum in Midrand, Johannesburg, gesê die verkiesing was hoofsaaklik vreedsaam en die polisie het waar nodig op voorvalle reageer:
# Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte vra pasiënte en gesondheidsorgwerkers om vermeende newe-effekte van medisyne aan te meld. Die oproep is deel van die wêreldwye Medisyne-veiligheidsweek wat tot Sondag duur. Aanmeldings kan deur die Med Safety-toepassing of deur middel van ‘n gesondheidsorgwerker gedoen word. Dis nie nodig om seker te wees of die medisyne die simptome veroorsaak het voordat dit aangemeld word nie. Volgens SAHPRA help die verslae om die veiligheid van medisyne te monitor, moontlike risiko’s te identifiseer en op te tree indien nodig.
Nuus uit die buiteland:
# Die wêreld se ontwikkelende ekonomieë dra die swaarste las van ontwrigtings in skeepvaart deur die Seestraat van Hormoes wat deur die konflik tussen Amerika en Iran veroorsaak word. Volgens ‘n verslag deur die Verenigde Nasies se Agentskap vir Handel en Ontwikkeling, UNCTAD, het 95 lande sedert Februarie stygings van meer as 20-persent in plaaslike dieselpryse ervaar. In Nigerië het dieselpryse tussen laat Februarie en die einde van Augustus met 83-persent gestyg, vergeleke met ‘n beskeie toename van nege-persent in Ierland. Die agentskap sê die hoër brandstofkoste het die algehele lewenskoste wêreldwyd opgestoot.
# Gholf: Die privaat kapitaalfirma BC Partners Credit gaan glo sy bod laat vaar om die toekoms van LIV-gholf te finansier omdat hy nie genoeg speler-verbintenisse kon kry vir volgende seisoen nie. Die maatskappy het ’n finansieringspakket van 4,98-miljard-rand vir LIV 2.0 beplan nadat Saoedi-Arabië se Openbare Beleggingsfonds in April sy steun onttrek het. Die liga moes daarna om bankrotskapsbeskerming aansoek doen. Vooraanstaande spelers, waaronder Louis Oosthuizen, Jon Rahm, Sergio Garcia en Tyrrell Hatton, het intussen onttrek. Financial Times berig dit lyk of LIV nou sy bedrywighede gaan staak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-42-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-650-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-128-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….