Nuus 11:00
BULLETIN 15 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging sê gesondheidsorg moet eers reggeruk word voordat Nasionale Gesondheidsversekering sal werk
# President Vladimir Putin sê Biden is beter vir Rusland as Trump
# En, tennis: Rafael Nadal wil aan die Franse Ope en die Olimpiese Spele deelneem
# Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging sê daar is verskeie gesondheidsorgkwessies wat eers reggestel moet word voordat die land gereed sal wees om die Nasionale Gesondheidsversekering in te stel. SAMA se voorsitter, Mvuyisi Mzukwa, sê probleme soos riool wat deur hospitale vloei, die gebrek aan gespesialiseerde medisyne en stukkende toerusting sal ‘n negatiewe uitwerking op die NGV se instelling hê. Mzukwa sê alhoewel SAMA ʼn universele gesondheidsorgstelsel ondersteun, moet die kwessie van werklose mediese beroepspersoneel ook aandag kry:
SAMA se drie-daagse konferensie het intussen vanoggend in Sandton begin. Mzukwa, het vroeër die Gesondheidsdepartement gewaarsku die uitdagings wat die gesondheidsektor in die gesig staar, kan tot ‘n uittog van Suid-Afrikaanse dokters na die buiteland lei. Mzukwa sê die konferensie gaan op verskeie belangrike gesondheidsorgkwessies fokus:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die stad se jaarlikse Infrastruktuur-verslag bevestig die vooruitbeplande projekte van 120-miljard-rand oor tien jaar is steeds op dreef. Die metro se beleggings in infrastruktuur verdwerg dié van ander stede in die land. Hill-Lewis sê hulle beskerm die stad teen toekomstige gebreke deur veel meer as enige ander metro in infrastruktuur te belê. Hy sê die metro gaan 43-miljard-rand oor die volgende drie jaar belê wat meer is as Johannesburg en Durban saam:
# Rusland se president, Vladimir Putin, glo dit sal beter wees vir Rusland indien Joe Biden president word eerder as Donald Trump. Putin het gister in ‘n regstreekse televisie-onderhoud met die pro-Kremlin-joernalis, Pavel Zarubin, gesê Biden sal beter wees vir Rusland omdat hy meer ervare en voorspelbaar, en uit die ou bedeling is. Hy het egter gesê Rusland sal met enige eerbare leier van die Amerikaners saamwerk. Putin sê hy is spyt hy het nie vroeër teen Oekraïne opgetree nie omdat die Weste vir Rusland gejok het oor Navo wat nie ooswaarts wil uitbrei nie.
# Tennis: Die wêreld se voormalige nommer een, Rafael Nadal, hoop om vanjaar aan die Franse Ope én die Olimpiese Spele deel te neem. Die 37-jarige Spanjaard het 22 Grand Slam-enkelspeltitels gewen wat ʼn rekord van 14 Franse Ope-seges insluit. Hy het in ʼn onderhoud gesê hy weet nie hoeveel geleenthede hy nog het om te speel nie, maar dit sal nie baie wees nie. Nadal het aan volgende week se Katarse Ope onttrek omdat hy nog nie herstel het van ʼn spierbesering wat hy verlede maand in Brisbane opgedoen het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen52-duisend-en-54-dollar-2-sent. Die prys van goud is een-duisend-992-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-26-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….