Nuus 12:00
BULLETIN 4 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Kubayi sê die regering se pogings teen korrupsie werp beduidende vrugte af
# COSATU vra ‘n onmiddellike nasionale reaksie op die kommerwekkende krisis met die inenting van kinders
# En tennis: Auger-Aliassime is uit die Amerikaanse Ope geskakel en terwyl Monfils sy laaste Grand Slam-wedstryd gespeel het
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die stryd teen korrupsie lewer beduidende finansiële invorderings. Die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid het reeds 8,3-miljard-rand se onregmatige winste verhaal, waarvan 3,68-miljard-rand aan slagoffers uitbetaal is en 4,6-miljard-rand aan die Bate-herwinningsrekening. Die Spesiale Ondersoekeenheid het die afgelope boekjaar bates en kontant van 936-miljoen-rand ingevorder. Kubayi sê ondanks hierdie welslae is daar steeds kommer oor onthullings voor die Madlanga-kommissie oor die kaping van wetstoepassingsagentskappe en staatsamptenare.
Intussen vra Activists and Citizens Forum president Cyril Ramaphosa om meer fondse beskikbaar te stel en die werksaamhede van die kommissie te verleng. Honderd-47-miljoen-rand is aanvanklik begroot, waarvan 123-miljoen-rand reeds bestee is terwyl bykomende befondsing gesoek word. Woordvoerder Dennis Bloem sê Ramaphosa kan nie vir Suid-Afrikaners vertel daar is nie geld nie terwyl 700-miljoen-rand beskikbaar was vir die Nasionale Dialoog, en ‘n verbysterende 600-miljoen-rand om die eendaagse betogings teen immigrante te monitor:
# Die vakverbond Cosatu is bekommerd oor die inentingskrisis van kinders, wat die Gesondheidsdepartement tot openbare gesondheids-noodtoestand verklaar het. Die hoeveelheid kinders onder een wat nie ingeënt is nie, het gestyg van 12,1-persent in 2017 tot 36,3-persent vroeër vanjaar, wat een uit elke drie babas weerloos laat. Woordvoerder Matthew Parks sê dit keer die groot vordering om wat sedert 1994 gemaak is met die voorkoming van sterftes onder kinders van onder vyf:
Nuus uit die buiteland:
# Die Europese Unie verskerp die afdwinging van sanksies teen Rusland en oorweeg groter steun aan Oekraïne. Die EU het sedert 2022 reeds 21 stelle sankies teen Moskou ingestel, gemik op die finansiële, die energie- en die handelsektor. Die visepresident van die Europese Kommissie, Kaja Kallas, sê die EU-ministers van Buitelandse Sake oorweeg dit om gevriesde Russiese bates te gebruik om Oekraïne te ondersteun en strenger visumbeperkings op Russiese toeriste te stel:
# Tennis: Die 40-jarige Fransman Gael Monfils het sy laaste Grand Slam-wedstryd gespeel toe hy in die tweede ronde van die Amerikaanse Ope teen die plaaslike speler Learner Tien verloor het. Karen Khachanov van Rusland het die wêreld-nommer-vier, Felix Auger-Aliassime van Kanada, getroef. In die vroue-afdeling het die tweede-gekeurde Elena Rybakina van Kazakstan ʼn oorwinning behaal oor Jessica Bouzas Maneiro van Spanje. Die Amerikaner Coco Gauff is ook deur na die derde ronde ná ʼn naelskraapse sege oor die Spanjaard Paula Badosa. Naomi Osaka van Japan het die Tsjeg Katerina Siniakova geklop.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-55-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-949-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-481-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-10-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….