Nuus 11:00
BULLETIN 14 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut van Direkteure sê ondoeltreffende bestuur is ‘n groot probleem in munisipaliteite
# PetroSA sê die aanstelling van ‘n nuwe uitvoerende hoof is op hande
# En krieket, Dane Piedt vat vyf paaltjies op ‘n goeie dag vir die Proteas
# Die Instituut van Direkteure in Suid-Afrika sê ondoeltreffende bestuur is die rede waarom munisipaliteite misluk. Die Ouditeur-generaal, Tsakani Maluleke, se Material Irregularities in Local Government-verslag het onthul munisipaliteite se verliese beloop byna 52-miljard-rand. Dit word toegeskryf aan onreëlmatighede soos nie-nakoming van finansiële regulasies, en vermeende bedrog. Die instituut se uitvoerende hoof, Parmi Natesan, sê aanstellings op grond van politieke of ander onbehoorlike gronde is die basiese oorsaak van die probleme wat die staat op alle vlakke teister.
# Die staatsbeheerde olie-en-gasmaatskappy, PetroSA, sê ‘n nuwe uitvoerende hoof sal binnekort aangestel word. Hy het intussen ʼn waarnemende bedryfshoof, Sesakho Magadla, as waarnemende uitvoerende groepshoof aangestel. PetroSA sê hy gaan voort om ʼn omkeerstrategie in te stel. Dit sluit in om sy gas-na-vloeistowwe-raffinadery naby Mosselbaai in die Wes-Kaap weer ten volle in werking te stel. Hy het onder kritiek deurgeloop weens ʼn omstrede besluit om Rusland se Gazprombank Africa as voorkeur-beleggingsvennoot te kies om bedrywighede by die raffinadery weer op dreef te kry.
# ActionSA in Gauteng sê hy ondersteun die Stad Tshwane se pogings om die metro se finansiële toestand te stabiliseer, ten volle. Tshwane se burgemeester, Cilliers Brink, het Maandag ʼn dapper finansiële reddingsplan aangekondig wat hoofsaaklik gegrond is op verhoogde inkomste en minder besteding. Debiteure skuld Tshwane tans 23,3-miljard-rand. ActionSA se woordvoerder, Funzi Ngobeni, sê die stad beplan om oor die volgende ses maande uitgawes elke maand met een-miljard-rand te besnoei:
# Die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers met sy Republikeinse meerderheid het gestem om die minister van Binnelandse Veiligheid, Alejandro Mayorkas, aan te kla oor sy hantering van onwettige immigrante wat die land oor die grens met Mexiko instroom. Tweehonderd-en-14 het ten gunste van die twee artikels oor die aanklag gestem en 213 daarteen. Mayorkas is die eerste kabinetsminister in byna 150 jaar wat ʼn ampsklag teen hom kry. President Joe Biden beskryf die aanklag as onbeskaamde en ongrondwetlike partydigheid wat ʼn eerbare staatsamptenaar in kleinlike politieke speletjies teiken.
# Krieket: Die Proteas se terugvegpoging vandag op die tweede dag van die tweede toets teen Nieu-Seeland was die Dane Piedt-vertoning. Dié draaibalbouler het vyf paaltjies ingeoes, terwyl Dane Paterson met drie gehelp het om die Swartpette vir 211 lopies uit te boul vir ‘n voorsprong van 31 lopies vir die Suid-Afrikaners. Die Proteas is in hul eerste beurt vir 242 uitgehaal, met Ruan de Swardt wat 64 gemoker het. Piedt sê dit was ‘n goeie dag vir die span:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-7-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 49-duisend-630-dollar-82-sent. Die prys van goud is een-duisend-991-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….