Nuus 12:00
BULLETIN 3 September 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Foschini-groep beplan om 280 winkels in Suid-Afrika, Brittanje en Australië te sluit
# ‘n Organisasie vra vreedsame landwye byeenkomste om ‘n verhoging van pensioentrekkers se toelaag te eis
# En rugby: Die Springbok-haker Johan Grobbelaar bly tot 2030 by die Bulle
# Die Foschini-groep het planne aangekondig om teen 2029 sowat 280 winkels reg oor Suid-Afrika, Brittanje en Australië te sluit na ‘n ernstige daling in wêreldwye kleinhandelbesteding. Die modereus, wat swaar getref is deur internasionale handelsmerk-verswakkings, waarsku dat sy verdienste per aandeel vir die volle jaar met tot 65-persent kan daal. Uitvoerende hoof Anthony Thunström sê die strategiese rasionalisering is ‘n noodsaaklike reaksie op volgehoue ekonomiese insinkings in sy primêre markte. Die sluitings sal hoofsaaklik winkels in onderpresterende gebiede raak.
# Activists and Citizens Forum verwelkom die afdanking van die adjunkhoof van Misdaadintelligensie, Feroz Khan, en sê dit sal die Polisiediens se integriteit en geloofwaardigheid herstel. Sy afdanking volg nadat hy versuim het om voor ‘n interne tugverhoor te verskyn oor beweerde wangedrag. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê dis bemoedigend om te sien die polisie is ernstig om die diens reg te ruk deur verdagte karakters af te dank:
# Pensioners of South Africa vra ouer persone, gemeenskapsorganisasies en ondersteuners om Maandag landwyd deel te neem aan vreedsame byeenkomste buite SASSA-kantore. Die stigter, Chef JC, sê hulle eis dat die toelaag vir ouer persone van twee-duisend-400-rand per maand tot vyf-duisend-rand verhoog word. Hy sê dit sal ʼn waardiger en leefbare vlak van ondersteuning vir ouer mense bied en help om met sekerheid aan hul basiese behoeftes te voldoen:
Nuus uit die buiteland:
# Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê twee nuwe entstowwe teen die Bundibugyo-stam van die Ebola-virus in die Demokratiese Republiek die Kongo word tans in veiligheidsproewe in Brittanje en Kanada getoets. Die amptelike sterftesyfer in die DRK se dodelikste Ebola-uitbreking ooit, is meer as drie-duisend. Die provinsie Ituri bly die middelpunt waar 88-persent van die sterftes was. Die Amerikaans-gebaseerde Moderna-groep is ook besig om ʼn entstof te ontwikkel. Die WGO sê doeltreffendheidstoetse van al drie entstowwe behoort teen Oktober of November in die DRK te begin.
# Rugby: Die Springbok-haker Johan Grobbelaar sal tot 2030 vir die Bulle speel nadat hy reeds in 2017 na Pretoria verhuis het. Hy het meer as 100 wedstryde vir die unie se verskillende spanne gespeel, en tien toetse vir Suid-Afrika sedert sy debuut in 2024. Die Bulle sê in ‘n verklaring die 30-jarige Grobbelaar is ‘n hoeksteen in die voorspeler-pak en die verlenging van sy kontrak versterk hul strategie om wêreldgehalte-talent en kernleierskap te behou. Die unie sê hy verteenwoordig alles waarvoor die Bulle staan.
En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-5-sent teen die dollar, 18-rand-62-sent teen die euro en 21-rand-66-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-887-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-435-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 97-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….