Nuus 11:00
BULLETIN 23 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende minister van Polisie is bekommerd oor die vlaag politieke geweld
# UNICEF sê kinders het ‘n twee-keer groter kans as volwassenes om in die DRK aan Ebola te sterf
# En krieket: Die SA onder-19-vrouespan toer volgende maand in Pakistan
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê ‘n aanval op politieke verteenwoordigers of ondersteuners, ongeag hul party-verbintenis, is ‘n aanval op die demokratiese regte van alle Suid-Afrikaners. Dit volg na ‘n vlaag vermeende politieke moorde tydens die afgelope naweek se kieserregistrasieveldtog. Cachalia sê politieke geweld het geen plek in ‘n grondwetlike demokrasie nie:
# Die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, veroordeel die onlangse opmerkings van KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi. Hy het verlede week gesê die Polisiediens is in ‘n oorlog gewikkel en bloed gaan vloei nadat die direktoraat nie ʼn beweerde lasbrief vir inhegtenisneming teen hom en die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, uitgevoer het nie. Johnson het aan News24 gesê Mkhwanazi se dreigemente kan nie ignoreer word nie:
# RISE Mzansi sê die Stad Johannesburg het ʼn wedersyds insluitende veiligheids-ekostelsel nodig wat samewerking tussen misdaadintelligensie, sterk speurdienste en die Metropolisie insluit. Die party se burgemeesterskandidaat, Lukhona Mnguni, sê misdaad het hoë, onderling-verbinde kostes wat deur gemeenskappe en die ekonomie strek. Hy sê deur moderne tegnologie saam met outydse sigbare wetstoepassing in te span, kan misdaad gekeer word voor dit plaasvind:
Nuus uit die buiteland:
# Die Verenigde Nasies se Kinderfonds sê kinders verteenwoordig 15-persent van die bevestigde gevalle en meer as 25-persent van die sterftes sedert Ebola in April in die Demokratiese Republiek die Kongo uitgebreek het. Kinders het ‘n byna twee keer groter kans om te sterf as volwassenes. Die DRK het nou meer as ‘n duisend Ebola-gevalle en 254 bevestigde sterftes. UNICEF se hoof, Catherine Russell, sê meer as 130 kinders in Ituri het reeds een of albei ouers verloor. Sy sê kinders is veral kwesbaar omdat hulle van versorgers afhanklik is en anders as volwassenes, nie van ‘n siek ouer kan distansieer nie.
# Krieket: Die Suid-Afrikaanse onder-19-vrouespan toer volgende maand die eerste keer ooit in Pakistan. Die veelsydige Mieke van Voorst is aangewys as kaptein van die groep van 15, wat ses spelers insluit wat vroeër vanjaar brons vir die land verower het in die Patricia Kambarami-bekertoernooi in Nigerië. Vyf internasionale kragmetings sal gespeel word, almal dag-aand-wedstryde in Karachi. Dit sal gebruik word as voorbereiding vir volgende jaar se onder-19-T20-Wêreldbekertoernooi in Bangladesj en Nepal.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-889-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-120-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 76-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….