Nuus 11:00
BULLETIN 10 Junie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die waarnemende minister van Polisie sê Suid-Afrika het te kampe met ‘n ernstige bedreiging weens georganiseerde misdaad
# Twaalf mense sterf in ‘n massaskietery in ‘n informele nedersetting in Johannesburg
# En krieket: Ben Stokes oorweeg volgens berigte sy toekoms as Engeland se kaptein
# Die waarnemende minister van Polisie, Firoz Cachalia, sê bendes, afpersingsmafia, dwelmsindikate, onwettige myn-netwerke, mensehandel-netwerke en korrupsiekartelle ondermyn die staat, die ekonomie en die oppergesag van die reg. President Cyril Ramaphosa het georganiseerde misdaad uitgewys as die grootste bedreiging vir demokrasie en die samelewing as geheel. Cachalia sê dis belangrik dat provinsiale veiligheidsplanne die aandrywers van georganiseerde misdaad identifiseer en hanteer terwyl doeltreffende teenkorrupsie-veldtogte gevoer word:
# AfriForum sê die vuurwapenbeheerkrisis is die regering se verantwoordelikheid en nie wetsgehoorsame burgers s’n nie. Die organisasie glo die fokus moet wees op swak bestuur van vuurwapens in staatsbesit en nie op strenger wette oor wettige wapeneienaars nie. Woordvoerder Jacques Broodryk sê openbare veiligheid sal ‘n probleem bly tensy die regering verbeter hoe hy wapens berg en bestuur. Broodryk vra vir strenger sekuriteit van staatswapens om te verhoed dat vuurwapens by misdaadnetwerke uitkom:
# Die Gautengse polisie het met ‘n soektog begin na verdagtes betrokke by gisteraand se massaskietvoorval in die Jumpers-informele nedersetting in Cleveland in die ooste van Johannesburg. Twaalf mense is dood en minstens nege beseer. Meer as tien aanvallers is blykbaar vanuit ‘n wit Toyota Quantum naby ‘n vulstasie afgelaai. Polisiewoordvoerder Dimakatso Nevhuhulwi sê hulle het op verskeie plekke losgebrand voor hulle van die toneel gevlug het:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se Revolusionêre Wagkorps het vergeldingsaanvalle uitgevoer op Amerikaanse teikens in die Midde-Ooste. Dit sluit in ‘n Lugmagbasis in Jordanië wat Amerikaanse magte huisves, asook in Koeweit en Bahrein. Dit volg op Amerikaanse aanvalle op lugafweerstelsels, grondbeheerstasies en radar-stellings in Teheran nadat ʼn Amerikaanse helikopter Maandag afgeskiet is. Iran sê sy magte is gereed om kragtig te reageer op enige Amerikaanse optrede, en voeg by Amerika sal aanspreeklik wees vir die gevolge van enige verdere toename in vyandighede.
# Krieket: Ben Stokes oorweeg volgens berigte om uit te tree as Engeland se kaptein. Hy en sy spanmaat, Gus Atkinson, word ondersoek nadat hulle blykbaar span-protokolle oortree het. Hulle was Maandag in die vroeë oggendure betrokke in ʼn onderonsie met ʼn Saracens-akademiespeler in ʼn Londense nagklub. Die voorval na Engeland se oorwinning oor Nieu-Seeland in die eerste toets het daartoe gelei dat ʼn veiligheidsbeampte van Engeland en Wallis se Krieketraad steke moes kry. Stokes oorweeg dit glo ook om sy loopbaan van 15-jaar vaarwel te roep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-538-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-205-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….