Nuus 11:00
BULLETIN 30 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkpresident van die Konstitusionele Hof vereer uittredende regter Zukisa Tshiqi
# Druk van Israel om ‘n groter deel van Gaza te beset, wek kommer
# En tennis: Djokovic word in die Franse Ope uitgeskakel
# Die adjunkpresident van die Konstitusionele Hof, Regter Dunstan Mlambo, het die uittredende regter Zukisa Tshiqi geprys vir haar toewyding en bydrae tot Suid-Afrika se regbank en die Grondwet vir die afgelope 21 jaar. Tshiqi het in die laat 1980’s begin met haar regsloopbaan en in 2005 by die Hooggeregshof in Johannesburg aangesluit, later by die Appèlhof, en in 2019 by die Konstitusionele Hof. Mlambo beskryf Tshiqi as ‘n weldeurdagte en gerespekteerde leier van geregtigheid:
# Die KwaZulu-Natalse Polisiekommissaris Nhlanhla Mkhwanazi is op ‘n gala-geleentheid in Pretoria, wat in vennootskap met UNISA gehou is, aangewys as die Nasionale Persklub se Nuusmaker van die Jaar vir 2025. Die toekenning is uit erkenning vir Mkhwanazi se reuse uitwerking op die nasionale nuusagenda deur sy uitgesproke standpunt oor misdaad en korrupsie. Hy het in Julie 2025 nasionale aandag getrek nadat hy beweer het ‘n Gautengse dwelmkartel het senior polisieleierskap geïnfiltreer:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het ‘n gewysigde, onderhandelde prysooreenkoms met Eskom vir twee ferrochroom-produsente goedgekeur. Dit sluit tussentydse toegewings in. Die kragvoorsiener het aansoek gedoen vir ‘n tarief van 62-sent-per-kilowatt-uur vir die smeltoonde. Eskom se uitvoerende hoof, Dan Marokane, sê die ooreenkoms ondersteun nywerheidskapasiteit, werkskepping en ekonomiese bedrywighede terwyl gewone verbruikers en belastingbetalers teen bykomende koste beskerm word. Die ooreenkomste is vyf jaar vir Samancor Chrome geldig en drie jaar vir Glencore-Merafe Venture.
# Die waarnemende provinsiale kommissaris in KwaZulu-Natal, Phumelele Makoba waarsku daar sal streng opgetree word teen enige gewelddadige optrede wat verband hou met die All Truck Drivers Forum South Africa se betoging op die N2- en N3-snelweë vandag. Makoba sê planne is gereed en die situasie word dopgehou om wet en orde in die provinsie te handhaaf. Sy doen ‘n beroep op organiseerders om deur middel van dialoog betrokke te raak:
# Hamas sê ‘n verklaring deur die Israelse eerste minister Benjamin Netanyahu dat sy land sy beheer in Gaza sal uitbrei, beteken ‘n gevaarlike verskerping van die konflik. Europese state en inwoners van die Palestynse gebied het ook kommer hieroor uitgespreek. Israel se weermag sou kragtens ‘n skietstilstandsooreenkoms in Oktober in beheer bly van 53-persent van Gaza. Netanyahu het egter Vrydag aangedui dit sal tot 70-persent uitgebrei word. Die Palestynse militante groep het sy uitlatings as ‘n plan vir etniese suiwering en die verdere gedwonge verskuiwing van Palestyne beskryf.
# En tennis: Die Brasiliaanse tiener Joao Fonseca het Novak Djokovic gister in die derde ronde van die Franse Ope uitgeskakel en die Serwiër se hoop op ‘n rekord 25ste Grand Slam verydel. Die 19-jarige Fonseca het na ‘n agterstand van twee stelle teruggeveg om Djokovic met ‘n verstommende kragvertoning te laat steier. Fonseca het in vyf stelle gewen ná ‘n stryd van byna vyf uur om vir die eerste keer in ‘n groot toernooi die laaste ronde van 16 te haal. Djokovic het agterna gesê hy het sy normale spel gespeel, maar Fonseca was net te goed.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….