Nuus 11:00
BULLETIN 19 Mei 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag sê berigte van ‘n pleitooreenkoms met Cat Matlala is vals
# Die Wes-Kaapse premier sê die koste van die onlangse storms gaan waarskynlik miljarde-rand beloop
# En rugby: Anathi Qolo gaan die Springbok-vroue aanvoer in die Afrikabeker vir vroue
# Die Nasionale Vervolgingsgesag ontken berigte dat ‘n pleitooreenkoms bereik is tussen die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie en Vusimusi “Cat” Matlala, wat van korrupsie en poging tot moord beskuldig word. Sunday Times het berig dat Matlala bereid is om bewyse te verskaf wat sekere mense betrek by ʼn grootskaalse korrupsie-ondersoek waarby sy maatskappy, Medicare24, betrek word in ruil vir versagting in sy korrupsieverhoor. Die NVG se woordvoerder, Kaizer Kganyago, het aan die SABC gesê onderhandelinge vind tans plaas tussen die ondersoekdirektoraat en Matlala:
# ActionSA dring aan op ‘n volledige ondersoek na die omstandighede rondom die taxibaas Joe “Ferrari” Sibanyoni se saak. Dit volg nadat die afpersing- en geldwassery-saak in die Kwaggafonteinse Landdroshof in Mpumalanga ineengestort het nadat die aanklaer nie opgedaag het nie. Dereleen James van ActionSA het die skorsing van die aanklaer verwelkom, maar sê dat verantwoordbaarheid nodig is om behoorlike bestuur van die regstelsel te verseker:
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die volle omvang van verlede week se verwoestende storms word nog bepaal en die koste sal waarskynlik miljarde-rand beloop. Swaar reën, oorstromings en sterk wind het elf lewens in die provinsie geëis. Die provinsiale regering het aansoek gedoen dat die provinsie tot rampgebied verklaar word om te help met verligting en die herbou van gemeenskappe wat geraak is. Winde sê ʼn lang herstelproses lê voor:
Nuus uit die buiteland:
# President Xi Jinping van China en sy Russiese amps- en bondgenoot, Vladimir Putin, vergader vandag en môre in Beijing in ʼn poging om bande te versterk. Putin se besoek val saam met die 25ste herdenking van die Verdrag van Goeie Buurmanskap en Vriendelike Samewerking tussen Rusland en China. Sy besoek volg minder as ʼn week nadat president Donald Trump van Amerika sy eie besoek aan Beijing afgesluit het. Die Kremlin sê Putin en Xi sal ekonomiese samewerking tussen die twee lande bespreek, maar ook fokus op belangrike internasionale en streek-sake.
# Rugby: Die Springbok-vroue se hoofafrigter, Swys de Bruin, het ʼn sterk groep van 28 spelers gekies vir die Afrikabekertoernooi vir vroue wat van Saterdag in Nairobi, Kenia, plaasvind. Anathi Qolo is kaptein van die span wat nege nuwelinge insluit, asook agt gewese toets-spelers wat weer na die internasionale verhoog terugkeer. Suid-Afrika, die verdedigende kampioen, speel haar groepswedstryde teen Uganda, Madagaskar en die gasvroue. De Bruin sê die toernooi is die ideale geleentheid vir nuwe spelers en gee sommige meer ervare spelers behoorlike wedstryd-tyd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-64-sent teen die dollar, 19-rand-36 teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-934-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-553-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 107-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….